INLIGTINGSBOEKIE: OMKEERSTRATEGIE |
|
INHOUDSOPGAWE
INLEIDING
HOOFSTUK 1: HISTORIESE OORSIG
HOOFSTUK 2: WAT GEBEUR IN ANDER KERKE
HOOFSTUK 3: DEPUTATE SE NAVORSING EN STUDIE
HOOFSTUK 4: OPROEP TOT BEKERING – AANBEVELINGS AAN SINODE
HOOFSTUK 5: VOORGESTELDE OMKEERSTRATEGIE
HOOFSTUK 6: FINALE AANBEVELINGS EN BESLUIT VAN SINODE 2015
SAMEVATTING EN DIE PAD VORENTOE
INLEIDING:
Waaroor gaan die hele gesprek rondom die Omkeerstrategie? Waar kom dit vandaan? Wat behels dit in wese? Watter besluite is deur die Sinode oor hierdie saak geneem? Hoe raak dit die gemeentes van die GKSA? Wat sê dit vir my as gewone lidmaat?
Hierdie is maar enkele van die vrae wat oor die saak van die Omkeerstrategie in die Gereformeerde Kerke gevra word. Hierdie boekie gaan poog om dit te beantwoord. Die inhoud wat hierin verskyn is al die dokumente, verslae en rapporte wat reeds voor verskillende Sinodes gedien het. Daar is niks verander of bygevoeg nie. Ter wille van leesbaarheid en duidelikheid is die formaat net geredigeer. Dit word so getrou moontlik weergegee saam met die besluite van die onlangse Sinode 2015.
Die nuwe Deputate (Kerkgroeibediening) wat tydens Sinode 2015 aangewys is, gee ook aan die einde van hierdie boekie hulle eie beplanning deur.
Ons gebed is dat hierdie boekie ʼn handige hulpmiddel sal wees wat die hele proses van “omkeer” binne die GKSA sal kan dien.
HOOFSTUK 1 – HISTORIESE OORSIG
Waar kom die saak vandaan?
Dit is van uiterste belang om te besef dat die saak met betrekking tot die “omkeerstrategie” en die wese daarvan nie ‘n nuwe saak nie. Daar is reeds belangrike besluite oor die saak geneem tydens Sinodes 1994, 1997 en 2000. Hierdie saak is dus al meer as 20 jaar in bespreking.
Sinode 1994
By die Sinode van 1994 dien ‘n Beskrywingspunt van Partikuliere Sinode Wes-Transvaal met die opskrif: Dalende tendense in lidmatetal GKSA. Die Beskrywingspunt stel:
In die lig van hierdie beskrywingspunt neem Sinode 1994 die volgende besluit:
Benoem Deputate insake tendens van dalende lidmatetal met die volgende opdrag:
Sinode 1997
‘n Baie deeglike Rapport Deputate Dalende Lidmatetal dien op Sinode 1997. Die volgende inligting word deurgegee:
1970: 246 gemeentes (63 940) met 187 predikante: 341–1
1990: 300 gemeentes (78 946) met 286 predikante: 261–1
‘n Probleem word uitgelig: aantal lidmate per predikantsversorging is te laag. Maar ook ‘n vraag: wat is die effektiwiteit van predikantsbediening?
Die Rapport dui ‘n lys van sake aan wat dringend aandag moet kry:
Die Rapport stel dit baie skerp: “Weë moet gevind word om elke gelowige wakker te skud uit die gees van selfgenoegsaamheid”.
Die Sinode neem die volgende besluite insake bewaring van die kerk:
Die Sinode besluit die volgende met betrekking tot groei (uitbreiding)
Die Sinode besluit die volgende met betrekking tot toerusting
Die Sinode neem ook hierdie belangrike besluit oor voorbidding
Verdere besluite van 1997
Sinode 2000
Die Deputate rapporteer en poog om dieper as die oppervlak te kyk na die hele saak van die opbou en uitbou van die kerk. ‘n Baie goeie Rapport Bewaring en Vermeerdering van die kerk dien en fokus op die volgende sake:
Algemene vertrekpunte
Bybelse perspektiewe vir ‘n Gereformeerde kerklike praktyk
Die Deputate wys op die volgende beskouings wat afwyk van ‘n Bybelse en Gereformeerde kerklike praktyk:
Belangrike en leidinggewende besluit van die Sinode
Wat gebeur egter na Sinode 2000? (Deputate se konklusie)
Sinode 2000 besluit om die saak na die Administratiewe Buro te verwys om sekere administratiewe sake rakende die Rapport te doen soos om dit te verwerk en aan Kerkrade beskikbaar te stel en sekere ander opdragte. Daar word nie weer Deputate aangewys om verder te studeer en leiding aan Kerkrade te gee nie. Vir alle praktiese doeleindes was die saak terug op elke plaaslike kerkraad se tafel.
SINODE 2012
Deur middel van ʼn beskrywingspunt word die saak weer deel van die agenda van Sinode 2012. Twaalf jaar nadat die saak vir die eerste keer aangeroer is, is dit weer deel van die Algemene Sinode se fokus. Behalwe vir die oorspronklike beskrywingspunt word daar nog drie ander opdragte bygevoeg en aan Deputate Omkeerstrategie deurgegee.
Beskrywingspunt se voorstel
Beskrywingspunt Streeksinode Vrystaat en KwaZulu-Natal – Omkeerstrategie (Pt 25.4, Acta 2012:509):
1 Dat ‘n omkeerstrategie in die GKSA uitgewerk, beplan en gevolg word om die dalende tendens in lidmaatgetalle in die GKSA en ander kerke in Suidelike Afrika om te draai, sodat die kerk van ons Here in Suidelike Afrika kan groei en Sy koninkryk so uitgebou kan word.
2 In antwoord op Christus se opdrag tot die uitdra van die evangelie, en daarop wat Hy Sy kerk geroep het om te doen en te wees, word elke gemeente en meerdere vergadering van die GKSA opgeroep om afsonderlik en gesamentlik te beplan om kerke te wees wat God verheerlik deur mense te begelei tot geloofsvolwassenheid, sodat gelowiges saam verantwoordelikheid kan neem om mense en gemeenskappe onder die gesag van Christus te bring.
3 Dat in afhanklikheid van God in elke gemeente en kerklike vergadering van die Here gesmeek word dat ons as gelowiges onder leiding van Sy Gees, sal soek om ons Verlosser te behaag in alles wat ons doen, ‘n godvrugtige lewe sal leef, en gevul sal wees met ‘n biddende en opofferende deernis vir diegene in die hele wêreld wat verlore is.
4 Dat elke plaaslike kerke opgeroep word om getallegewys uit te brei, hul lidmate toe te rus en te versorg, en die moeder-kerke te word van soveel as moontlik geloofsgroepe en gemeentes, asook om deur inisiatiewe en samewerking in te dring met die evangelie in strukture van die samelewing wat buite die bereik van die plaaslike kerk is.
5 Dat die GKSA haar ten doel stel om die aantal goed opgeleide persone georden, voltyds, deeltyds, vrywillig) te vermenigvuldig, wat die evangelie kan uitdra op ʼn liefdevolle, toegewyde wyse op elke moontlike lewensterrein.
6 Dat die lewenswyse van die GKSA (insluitende ons kerk etos, gewoontes, Kerkorde, die gebruik van hulpbronne, kerklike Deputaatskappe, ondersteunings-personeel, ens.) voortdurend hervorm word, om aan die opdrag van ons Here aan ons as die kerk te kan voldoen.
7 Studiedeputate moet aangewys word om studie te doen:
7.1 Van gemeentes wat groei en van gemeentes wat krimp, en om in te gaan wat sulke gemeentes in gemeen het.
7.2 Van omkeerstrategieë wat in ander kerke oor die wêreld uitgevoer is, en die resultaat daarvan.
7.3 Van hoe lidmate kerkwees en hulle roeping daarin ervaar.
7.4 Van materiaal wat beskikbaar is vir die opleiding van lidmate, asook die ontwikkeling van nuwe materiaal.
7.5 Van die suiwerheid en toepaslikheid van die leer wat op elke vlak verkondig word, asook hoe dit verder uitgebou kan word.
Nog ʼn verdere voorstel aan Sinode 2012
Vanuit die Rapport Deputate vir toerusting van die ouderlinge en hulp aan kerke met die uitdra van die evangelie (24.6, Acta 2012:484) volg die volgende voorstel wat ook na deputate verwys moet word:
1 Die bepaling van predikante en gemeentes se toerustingsbehoeftes binne die GKSA.
2 Die bepaling van die beskikbaarheid van toerustingsmateriaal (nasionaal en internasionaal) wat aan hierdie spesifieke toerustingsbehoeftes voldoen.
2.1 Kontak met opleidingsinstansies nasionaal en internasionaal. In hierdie verband moet skakeling ook geskied met die TSP en die Fakulteit Teologie, veral met die lessenaar vir Voortgesette Bedieningstoerusting wat geskep is.
2.2 Opname binne kerkverband oor dit wat reeds in gemeentes gebruik word en nou beskikbaar gestel kan word.
2.3 Die evaluering van beskikbare toerustingsmateriaal aan die hand van die volgende kriteria:
2.3.1 Inhoudelike (Skriftuurlike en dogmatiese suiwerheid).
2.3.2 Die metode van aanbieding (ter wille van praktiese aflewering). Gebruik van die moderne media moet prioriteit geniet.
2.3.3 Vlakke van toepasbaarheid (diploma/sertifikaat/graad).
2.3.4 Soomlose integrasie van ‘n groter toerustingstrategie vir die kerke.
2.4 Die akkreditering van goedgekeurde toerustingsmateriaal vir die beskikbaarstelling en implementering binne (en buite) kerkverband.
2.5 Kerklike akkreditasie (Word binne gemeentes “getoets”).
2.6 Samewerking met opleidingsinstansies vir ander akkreditasie (sertifikaat/diploma).
2.7 Die vertaling van goedgekeurde materiaal vir gebruik in alle kerke.
2.8 Die koördinering van toerustingsgeleenthede binne die GKSA.
2.9 Bekendstelling van toerustingsmateriaal op streeksvlak.
2.10 Hulp aan Streeksinodes in die aanbieding van toerustingsgeleenthede.
Nog ʼn verdere opdrag vanuit:
Beskrywingspunt Streeksinode Pretoria oor die verdere toerusting van predikante (24.14, Acta 2012:504)
1 Kerkrade word versoek om so ver moontlik ook die predikant in staat te stel om deel te neem aan verdere toerusting met die oog op gemeentelike bediening.
2 Kerkrade word versoek om mee te werk in die daarstelling, akkreditasie en gebruik van toerustingsmateriaal en toerustingsgeleenthede wat daarop gemik is om die gemeentelike bediening te bevoordeel.
Nog ʼn verdere opdrag wat na deputate verwys is, kom vanuit:
Beskrywingspunt Streeksinode Noordwes oor teologiese opleiding (24.15, Acta 2012:506)
Die Beskrywingspunt het die volgende versoeke gerig waaraan gevolg gegee is deur die Deputate Omkeerstrategie te benoem.
1 dringende en daadwerklik aandag te gee aan die behoefte van die kerke aan teologiese opleiding dmv kort kursusse, asook op geakkrediteerde Sertifikaat en Diploma vlak.
2 die teologiese graadopleiding van predikante aan te pas sodat die missionêre (missionele) opdrag vanuit die Koninkryksperspektief ‘n fundamentele deel van die opleiding sal uitmaak.
3 aan bogenoemde sake aandag te gee aanvullend en aansluitend tot die besluite van die Nasionale Sinode (Potchefstroom), Acta 2003 (728, 1:1) en 2006 (806, 2.3.7.12) en die Algemene Sinode, Acta 2009 (813, 1.5).
HOOFSTUK 2: WAT GEBEUR IN ANDER KERKE WêRELDWYD
Die saak van ʼn “omkeerstrategie” is nie onbekend in die Gereformeerde wêreld nie. In die navorsing van die deputate is die volgende inligting versamel.
Omkeerstrategie van die Christian Reformed Churches of Australië
Die voorstel tot ‘n omkeerstrategie wat op Sinode 2012 voorgestel is, berus baie sterk op ‘n soortgelyke strategie waarop die CRCA (met wie die GKSA ekumeniese eenheid handhaaf) besluit het en met groot vrug reeds begin toepas het. Vyf lede van die Deputate het kerke in Sydney, Australie, 18–25 April 2012 besoek (Flip Buys, Naas Ferreira, Ferdi Kruger, Etienne Schalekamp en Piet Venter). Hier is ʼn samevatting van gesprekke en indrukke van die Deputate na die besoek.
Historiese verloop van die Omkeerstrategie in CRCA
In 1999 was daar ‘n dinkskrum gehou oor die situasie in die kerkverband. Lidmaatgetalle het sterk begin afneem en daar was geen groei nie. Aanvanklik is die kerk gevoed deur Nederlandse immigrante en daarom was die kerk nooit regtig missionaal gerig nie. Daar is toe ‘n visie geformuleer wat lees “A church reformed to reach the lost for Christ”. Die visie is na die Sinode in 2000 geneem. Die visie het erken dat die kerk meer missionaal moet word. Die Sinode het die visie aanvaar maar wou nie gemeentes forseer nie want volgens die Kerkorde is die gemeentes selfstandig en moet self inkoop in die visie. Baie min gemeentes het die saak ernstig opgeneem. Gedurende die jare 2002–2003 het daar ‘n geweldige krisis gekom met baie lidmate wat die kerk verlaat het en ongeveer 30% predikante het die bediening verlaat. Daar was ongelukkigheid oor te veel gemeentelike werkers en te hoë bedieningskoste. Die teologiese skool het baie min nuwe predikante gelewer. Dit het ‘n krisis geword.
Op 2003 se Sinode het die kerke besef dat iets gedoen moet word. Die Natural Church Development program (NCD) het inslag by gemeentes begin kry en vrugte begin oplewer. Daar is besef dat leierskapsontwikkeling binne die kerk dringende aandag moes kry (in al drie ampte en vir lidmate). Sendingwerk en kerkplanting het aandag begin kry. Na 2003 is ’n “Ministry Training Strategy” opgestel wat gefokus het op in diens opleiding van leiers. Dissipelskap moes baie belangriker word. – meer as pastorale sorg. Daar is begin kennis neem van die Anglikaanse kerke in Sydney onder leiding van Phillip Jensen wat ook besig was om ‘n omkeerstrategie suksesvol toe te pas. Die blootstelling by wyse van ‘n konferensie oor “church revitalization” aan die Anglikaanse leiers in Sydney te wete Peter en Phillip Jensen het baie gehelp om predikante bewus te maak en hulle te oortuig dat verander kan en moet plaasvind. In 2004 is ‘n reeks besprekingsdokumente in die kerkverband uitgebring, naamlik “Gospel ministry, calling system, dissipleship, ministry review, pastoral care”. Daar is ook besef dat die Kerkorde nie buigbaar genoeg was om sekere verandering aan te bring nie en dit moes aandag kry. Dissipelskap het baie sterk uitgestaan: ons moet mense oplei om ander mense te dissipel. Die CRCA het kennis geneem van die Anglikaanse kerk se Four Fold Task (4FT) as omkeerstrategie. Hierdie strategie het 4 sentrale temas te wete: Pray – Gebed: ‘n Intensiewe gebedsbediening met die oog op die uitvoering van die Bybelse opdrag. Multiply – Vermeerder: om die kerk missionaal gerig te kry sodat die kerk kan groei deur die verkondiging van die Woord. Train – Opleiding: ‘n gerigte fokus op die opleiding van alle kerkleiers om die 4FT te kan deurvoer. Align – Om in lyn te bring, te rig: alle bedieningstrukture moet in lyn met die 4FT gebring word sodat dit deurgevoer kan word. Hierdie visie is aan die Sinode van 2006 voor gelê as visie en missie vir die kerkverband. Die “missions”-komitee is verander na Kerkplantingkomitee. Die Sinode het die nuwe visie en missie aanvaar en verskillende komitees is aangewys om die sake verder uit te werk. Belangrik: Die dryfkrag agter alles was die ontevredeheid met die huidige situasie in die kerk en die behoefte om dit reg te stel vanuit die Skrif. In 2009 het die Sinode alle strukture in die kerk gerekonstrueer om aan die Four Fold Task (4FT) uitvoering te gee. Wanneer ‘n omkeerstrategie deurvoer wil word, moet strukture verander word en die leiers in die kerk moet dit implementeer. Ook die gemeentelike bedieningstrukture moes verander word om hierby in te pas.Die Sinode het ook ‘n belangrike besluit geneem om ‘n predikant af te sonder om die 4 FT in die kerkverband te fasiliteer. Dr Jack de Vries is deur die Sinode aangestel vir ‘n termyn van 6 jaar om predikante en gemeentes te help met die uitvoering van die 4FT. Hierdie besluit van die Sinode het geweldig bygedra tot die sukses wat tot dusver deur die CRCA behaal is. Die kerk se sterk negatiewe groei is omgedraai na ‘n positiewe groei van 231 lidmate – een nuwe gemeente! Werkgroepe is deur die Sinode aangewys op grond van die 4FT om leiding te gee in die uitvoering daarvan o.a.:
(1) “Ministry Formation Workgroup”: Hierdie groep fokus op die aanpassing en in lyn bring van bedieningstrukture. Dr Jack de Vries neem hier die leiding. Die fokus is hier die vestiging van gesonde kerke na aanleiding van Mk 4: 26–28. Kerkgroei is die werk van God maar ons moet saai. Ons moet die grond voorberei deur bedieningstrukture te vestig groei kan aanhelp. Die Natural Church Development program (NCD) word gebruik as hulpmiddel om gemeentes te help om ‘n omgewing te skep waarin gesonde kerkgroei kan plaasvind. Die sluit ook aan by die kenmerke van die ware kerk volgens NGB, art 28. NCD se agt kritiese faktore vir kerkgroei word toegepas. Die komitee gee leiding aan gemeentes om die 4 FT as eie visie en missie aan te pas op eie omstandighede. Die Deputate gebruik hulle webwerf om gemeentes te inspireer en hulpmiddels deur te gee. www.ministryformation.com.au Hulle e-pos gereeld ‘n nuusbrief aan lidmate en vertel mense wat gebeur. Gee altyd inligting en kennis deur wat lidmate bemagtig.
(2) “Training Workgroup”: Hierdie groep fokus op opleiding van leiers en lidmate. Ds Leo Douma neem hier die leiding. Die vertrekpunt word geneem Ef 4:11– 12: lidmate moet tot geloofsvolwassenheid gelei word en in die proses toegerus word vir hulle bediening. Daar word sterk gefokus om ouderlinge op te lei om die toerusting van lidmate te hanteer. Daar word ook sterk gefokus op mentorskap as model van opleiding en die vertrekpunt word geneem uit 2 Tim 3:10. Paulus gebruik die Woord om mense toe te rus, maar ook sy eie persoon en optrede om Timoteus toe te rus. Ons moet mense dissipel om weer ander te dissipel. Opleiding moet persoonlik gebeur. Die mentorskapmodel van Christus word ook gebruik. Hy het 12 opgelei en hulle het weer ander dissipels opgelei. Die fokus van hierdie opleiding is geestelike groei – groei in verhouding en groei in kennis van God en kennis van jouself. Die doelwit is nie kennis nie maar kennis wat mense kan verander om meer soos Christus te lyk. Hierdie opleiding moet begin word met kategese en moet deurloop tot volwasse opleiding. Die boek van Collin Marchall, “The Trellis and the Vine” word sterk aanbeveel as opleidingsmateriaaal vir ouderlinge. ‘n Dissipelskap kursus “Course of your life” (Mattias Media) word gebruik om lidmate op te lei.
(3) “Leadership development workgroup”: Hierdie groep fokus op ontwikkeling van leiers en veral predikante. Die Sinode het opdrag gegee dat die opleiding van die predikante aan die teologiese skole van die CRCA ook in lyn gebring moet word met die doelwitte van die 4 FT. Hierdie is ‘n baie belangrike aspek van die visie want toekomstige predikante wat in gemeentes instap moet dadelik toegerus wees om die visie en missie verder te neem. Daar is ook ‘n sterker fokus op indiensopleiding van nuwe predikante. Hulle werk eers vir ’n tyd in ‘n gemeente en word dan formeel opgelei. Dit maak die opleiding soveel meer praktykgerig en toerustend. Die werkgroep het besef dat niks gaan verander in die CRCA alvorens die predikante nie self eers die noodsaak vir en passie tot die 4 FT ontwikkel het nie. In ‘n poging om predikante te bereik en toe te rus word gereelde Leierskapkonferensies gehou om predikante bloot te stel aan die 4 FT en ook ander kerkgemeenskappe wat soortgelyke programme suksesvol bedryf. Daar word ook sterk gefokus op die predikant se eie geestelike groei en bedieningsvaardighede. Vir die doel word jaarliks ‘n predikante retreat gehou. Dit word ook opgevolg met ‘n predikantspaar retreat waar die pastoriegesin saam opgebou en toegerus word. Hierdie metode het goeie vrug gelewer en ʼn groot groep predikante het ‘n gesamentlike visie gevorm om die CRCA in hierdie proses te help en hulle vorm onderling ‘n ondersteuningsgroep wat mekaar bemoedig en help. Die werk van dr De Vries, die voltydse 4FT fasiliteerder, is ook hier van kosbare belang. Hy besoek predikante en hulle vroue en staan hulle by in die bediening van die 4FT in hulle gemeentes.
(4) “Church Plant Taskforce”: Hierdie groep fokus op die missionaal gerigtheid van die kerk en metodes om die evangelie uit te dra. Dr Brian Vaastra neem hier die leiding. Die eerste taak was om kerkplanting as ‘n Bybelse beginsel weer by gemeentes tuis te bring. Heelwat rapporte en artikels geskryf om die boodskap by predikante en kerkrade deur te bring. Vraelyste is uitgestuur om die situasie te toets. Hierdie vraelyste en die feit dat kerkrade daarop moes antwoord het al baie gehelp om bewustheid te verhoog.Die komitee doen baie moeite om suksesvolle kerkplantingsverhale aan almal te kommunikeer om so gemeentes en lidmate aan te moedig om betrokke te raak. Die Sinode het fondse opsy gesit om gemeentes wat kerke wil plant finansieel te ondersteun. Belangrike beginsel: fondse moet nie aangewend word om vir sterwende kerke se begrafnis te betaal nie, maar om nuwe kerke te plant. CRCA Sinode 2012: Aanpassing in 4FT Vir 2012 se Sinode het die Deputate voorgestel dat die 4FT aangepas word. Die 2de opdrag “Multiply” word verander na “Grow” om die fokus meer te stel op gesonde kerkwees wat op natuurlike wyse sal uitloop op kerkgroei. Die derde opdrag “Train” word uitgebrei om ook lidmate in te sluit in die opleiding van leiers. Dissipelskap word baie sterk beklemtoon. Weerstandsbestuur Daar moet goed na die probleme van gemeentes geluister word want gemeentes is gesteld op hulle selfstandigheid en elke gemeente wil haar eie bediening reël. Die 4FV komitee het ‘n luisteraksie geloods deur middel van vraelyste aan predikante en kerkrade en deur persoonlike besoeke. Die komitee het geluister na vrae en bekommernisse en vrese van kerkrade. Hulle het moeite gedoen om Kerkrade te verseker dat die gewone bedieningsbehoeftes aangespreek sal word, maar dat daar ‘n nuwe dringendheid en nuwe fokus moet kom. Dit is baie belangrik om in Bybelse terme en begrippe te praat sodat lidmate dit kan verstaan en inkoop en om telkens besware en vrese deeglik gemotiveerd vanuit die Skrif te antwoord. Die visie moet diep in die Skrif veranker wees. Die Deputate het telkens geantwoord: “Maar dit is wat God in die Bybel sê”.Die komitee het baie moeite gedoen om die visie deurlopend aan predikante en gemeentes voor te hou en dit te verduidelik. Dit is belangrik om te vertel van suksesverhale want suksesverhale verander mense se denke.
Waarnemings van moontlike belang vir GKSA Omkeerstrategie
- Ons moet besef dat die omkeerstrategie ‘n langtermyn projek is wat volgehoue toewyding daaraan van elke gemeente verg.
- Die bewys is daar dat sukses behaal kan word deurdat die CRCA na 12 jaar groei begin toon het.
- Die kritiese rol van ‘n fasiliteerder in die kerkverband wat voltyds die implementering van die strategie fasiliteer en toerusting verskaf.
- Die kritiese rol wat predikante speel in die suksesvolle uitvoering van ʼn omkeerstrategie.
- Die noodsaak om die teologiese opleiding so in te rig dat dit die bereiking van die doelwitte van die omkeerstrategie kan dien.
- Die noodsaak van voortgesette teologiese opleiding vir alle ampsdraers en lidmate.
Reformasie en groei van die Igreja Presbiteriana doBrasil (IPB)
Die Omkeerstrategie Deputate het in hulle ondersoek oor wat in ander Gereformeerde kerke wêreldwyd met groot belangstelling kennis geneem van ʼn reformatoriese vernuwingsproses wat plaasgevind het in die Igreja Presbiteriana doBrasil (IPB). Hierdie kerk met wie die GKSA amptelik ekumeniese bande gesluit het, is baie sterk betrokke by World Reformed Fellowship en vanweë sy posisie by WRF kon dr PJ Buys hulle twee maal besoek . Deur ‘n aksie wat dr DG Breed gereël het, kon ds JL Lee (Pietersburg-Noord) en dr AJ Coetsee (Uitschot) aan die begin van 2013 van hulle gemeentes in Brasilië te besoek. Hierdie kerke het in die afgelope 2 dekades omgedraai van stagnerende kerke na dinamies groeiende kerke. Ten spyte van maatskaplike krisisse in hulle samelewing soos misdaad wat ongekende afmetings aanneem, onsedelikheid, prostitusie wat gewettig is, het die kerkverband in getalle so toegeneem dat hulle nou om en by 1 miljoen lidmate het. Wat egter baie gou duidelik was is dat hulle besef het dat daar nie so iets soos kits-kerkgroei of kits-omkeer is nie, want reformasie is soos om ʼn vliegtuig te probeer herstel terwyl daardie vliegtuig besig is om te vlieg. Die kern van hulle omkeer was geleë in Semper Reformanda! Altyd terug na die Woord. Toe hulle opnuut teruggedraai het na die bron en weer daaruit begin drink het – het die kerk daar begin groei. Om dit te bereik lê hulle baie sterk klem op opleiding en toerusting.
(1) Ouderlinge word werklik opgelei om herders te wees wat regeer met die Woord. Eers na maande van opleiding word hulle in die amp bevestig. Soms word daar van hulle verwag om uit die belydenis in die erediens onderrig te gee (soos proeflesse). (2) Lidmate word by hul Bybel Instituut voorberei vir sending, vir katkisasie en evangelisasie en hierdie inisiatief bring duisende na Patrocinio in die binneland waar hulle kort kursusse in bediening ontvang. Hulle Andrew Jumper Graduate School of Theology bied ‘n sertifikaatkursus aan oor “church revitalization en church planting” aan vir jong predikante en ouderlinge oor ‘n periode van 18 maande met slegs 5 kontakgeleenthede van ‘n week lank. Die betrokke kursus gee dan toegang tot ‘n Meestersgraad in Teologie.
(3) Tydens eredienste verlaat kinders nie die gebou vir ‘n afsonderlike verduideliking nie, maar as ‘n hele onderdeel in elke erediens word die prediking aan die kinders verduidelik.
(4) Die professore by hulle nagraadse sentrum se fokus is nie op akademiese uitsette nie maar op bediening van die evangelie met akademiese begronding slegs as ‘n onderdeel. Daarom is die teologiese professore almal betrokke by evangelisasie en sending in ‘n plaaslike gemeente – hetsy by kerkplanting, – stigting of voltydse bediening. Dit dra daartoe by dat studente se voorbereiding baat by die professore se voortdurende betrokkenheid op grondvlak in kerke.
(5) Daar is ‘n sterk element van in-diens opleiding van toekomstige predikante sodat die inhoud van hulle toerusting sterk gerig is op geestelike karaktervorming en die werklike ontwikkeling van bedieningsvaardighede en nie slegs op akademiese intellektuele akademiese ontwikkeling nie.
(6) In gemeentes word sterk klem gelê op voorbereiding van lidmate om volgens hulle eie gawes selfstandig ook bediening te doen, sonder dat die impetus van die predikant se kant af moet kom. Dit wil sê die amp van die gelowige ontvang groot klem. Hulle beklemtoon dat die primêre taak van die Woordbedienaar eenvoudig in hierdie titel lê: WOORDbediening. Sy “kantoor” moet weer sy studeerkamer word. Die belangrikste taak van die predikant is om lidmate deur indringende Godgesentreerde prediking die gelowiges te aktiveer en toe te rus tot getrouheid in hul Godgegewe roeping. Prof Davi Gomes het dit so gestel: Die kerk se belangrikste wapen, sy belangrikste stukkie gereedskap, is die kansel.
(7) Hulle het ook op Sinodale vlak besluite geneem dat 50% van alle hulle inkomste aan sending en evangelisasie bestee moet word. Daarom het hulle ook ‘n groot aantal sendelinge na baie lande in die wêreld uitgestuur.
Ander studies
1. Benewens studie en kennisname van bogenoemde kerkverbande waar omkeerstrategië met sukses toegepas is, het die Deputate kennis geneem van artikels, boeke en kursusse ter plaatse en in andere wêrelddele wat handel oor kerkgroei, omkeerstrategie en verwante onderwerpe. Die Deputate meld ook van die inisiatief wat CRUMA geneem het om dr Harry Reeder van die PCA na SA te bring wat ‘n kursus oor kerkrevitalisering (“From Embers to A Flame”) aangebied het en deur ongeveer 40 GKSA predikante en lidmate bygewoon is. ‘n Ander belangrike gebeurtenis wat bygedra het tot navorsing en resente inligting is die grootste internasionale sendingkonferensie wat nog ooit in GKSA kringe plaasgevind het deur samewerking van World Reformed Fellowship en die Fakulteit Teologie in Potchefstroom in Oktober 2013 waar sessies aangebied is oor “Church revitalization” en “Church planting”. Op die CD wat saam met hierdie Rapport uitgee word verskyn ‘n volledige lys van hierdie materiaal en word dit – vir sover dit elektronies beskikbaar is, aan kerke deurgegee.

Eksegetiese lyne mbt Missio Dei, lyne uit die Ou Testament en Nuwe Testament
1. Eksegetiese lyne
Die doel van hierdie eksegetiese lyne is om die string van pêrels (die goue draad) soos dit deur die Openbaringsgeskiedenis ontvou het opnuut weer voor oë te hou en sodoende te besin oor wat God in sy Woord van die kerke eis in ‘n omkeerstrategie wat gevolg word. Die uitgangspunt is daarom dat alles wat ons as skepsele van God kan en moet weet, deur die een ware God (NGB, art 1) aan die mens geopenbaar word (NGB, art 2). Hierdie geloofsfeit het die implikasie dat slegs diegene wat die feit en middel van God se openbaring erken en aanvaar, Hom na Sy Wese en werke kan leer ken (NGB, art 3). God is slegs kenbaar in Sy openbaring. Sonder Sy openbaring kan ons Hom nie reg ken of dien volgens Sy wil nie. Volgens God se openbaring in Sy Woord is God in Sy Wese van ewigheid af ‘n immanente (ad intra) Triniteit (NGB, Artt 8-11; Genesis 1:1- 2; Johannes 1:1; Efesiërs 1:3-4; Geloofsbelydenis van Athanasius). Hierdie immanente Triniteit word geopenbaar in ‘n “uitvoerende” (ad extra) Triniteit (ook genoem: die ekonomie van God). Hierdie Deputate is ook van oortuiging dat indien hierdie eksegetiese begronding sodanig geformuleer word dat dit die kerkverband saamneem, dit ook aanleiding sal gee tot ‘n gesindheidsverandering. Hierdie eksegetiese lyne poog dus ook om vanaf die aanvang op meer populêre wyse oor die koloriet van missionale kerkwees te delf in die Skrif. Die begrip missionaal word daarom nou voorlopig omlyn as ‘n byvoeglike naamwoord wat die identiteit van kerkwees beskryf as ‘n betrokkenheid by God se sending. Die begrip missionaal omskryf en omlyn daarom die dinamika van sending. 1.1 God met ‘n sending of God se sending (Missio Dei)
1.1. Wie God in Sy Wese is, word geopenbaar in wat God in Sy werke doen. Hieruit blyk die volgende:
1.1.1. God as immanente Triniteit het ‘n “voorbedagte” (ewige) raadsplan vir die skepping (Efesiërs 1:5 en 9). Voor die skepping van die wêreld het God in die Wese van Sy ewige bestaan, Sy onveranderlike besluite geneem.
1.1.2. God se ewige raadsplan word deur die uitvoerende Triniteit in werking gestel (Efesiërs 1:9). Dit wat God reeds in ewigheid vas besluit het, bring Hy nou, op ‘n tyd deur Hom bepaal, deur die handelende werking van die drie Persone van die Drieeenheid tot uitvoer.
1.1.3. Die Drie-enige God se uitvoerende handele kan onderskei word in Sy skepping (NGB, art 12) en onderhouding (NGB, art 13) van die wêreld.
1.1.4. Die onderhoudende werk van God Drie-ënig is ter wille van die herskeppende werk (NGB, art 14 en verder). Die herskepping (verlossing) is nie ‘n “nagedagte” van God na die sondeval nie, maar was reeds deel van God se ewige “voorbedagte” raadsplan. God bemoei Hom steeds met ‘n skepping wat as gevolg van die sondeval gebroke is ter wille van Sy genadeplan wat die eindes van die aarde en alle volke, nasies en tale moet bereik.
1.1.5. God Drie-ënig se uitvoerende werksaamheid word sigbaar in die openbaringsgeskiedenis soos bekendgemaak in Sy Besondere Openbaring (Die Bybel).
1.1.6. God Drie-ënig se uitvoerende werksaamheid = misso Dei. Konklusie: In die Missio Dei word die Drie-enige God in Sy Wese bekendgemaak.
1.2. Die bedoeling met die uitdrukking “Missio Dei” is om ‘n aanduiding te gee dat die Drie -Enige God op dinamiese wyse besig is in hierdie wêreld. Trouens die sending van die kerk kan alleen begryp word indien die Triniteitsgedagte goed begryp word. Die Drie-enige God het reeds voor die skepping van die wêreld in die Heilige Drieeenheid ʼn verbond gesluit/aangegaan waarin die Seun aangewys is as die Koning en Heerser oor alle dinge (Johannes 17:2). Die Seun word na die wêreld gestuur om te ly, te sterf, te oorwin om so die ewige lewe te verwerf vir die wat die Vader uitverkies en aan Hom gegee het (vgl ook Johannes 6:36). God het in sy Raad ʼn verlossingsplan gehad, naamlik God die Vader en God die Seun stuur ook God die Heilige Gees om die goeie nuus oor Jesus se werk in menseharte weerklank te laat vind (Johannes 16:7-12). God die Heilige Gees word gestuur op die basis van die volbragte werk van God die Seun. Daarom is alle menslike aktiwiteite ten opsigte van sending en missionêre aktiwiteite deurentyd ‘n deelname en verbesondering van hierdie Goddelike sending.
1.3. Die uitdrukking Missio Dei het ‘n teosentriese uitgangspunt. Voortspruitend vanuit hierdie teosentriese uitgangspunt spruit die gedagte voort van ‘n mens met ʼn deelname aan God se sending. Alreeds in Genesis 1:28 vind die mens die opdrag om die aarde te bewoon en te heers. Binne die orde wat God daargestel het, word die mens bemagtig om sorg te dra vir hierdie aarde. Die mens ontvang van God die opdrag om om te gee en om hierdie aarde waarop Hy hulle geplaas het, op te pas. God het nie die mens of die skepping na die sondeval vernietig nie, maar het Sy ewige raadsplan (Efesiërs 1:5 en 9) tot uitvoer gebring deur in genade na die sondaarmens uit te reik (Genesis 3:9). Nadat die hele mensdom (Genesis 11) die sondeval van die eerste mense (her)-bevestig het, het God Sy genadeplan vir die hele wêreld in werking gestel. Die mense van Babel word nie vernietig nie, maar oor die hele aarde versprei in volke, tale en kulture wat in hulle wese in opstand teen God is. In die roeping van Abram (Genesis 12) maak God bekend dat Hy na al die volke van die aarde in genade sal uitreik. Hy sal ‘n volk uit die wêreld roep (die nageslag van Abram) met die doel om al die volke van die hele aarde te bereik. Abram en sy nageslag word deel van God se missio Dei. Die sonde en die uitbreiding van die sonde (Genesis 3-11) bring nie hierdie opdrag van God in gedrang nie. In Genesis 12 roep God vir Abraham om deur hom en sy nageslag ook ‘n seën vir die nasies te wees. Hierdie opdrag sou ook deur die geslagte heen deel van Israel se opdrag wees en bly.
1.4. In Lukas 12 plaas Jesus sy offer aan die kruis binne ‘n wêreldperspektief. Hy beskryf Homself as ‘n saadkorrel wat Homself sou weggee, maar juis hierdie kruis en hierdie offer sou ‘n oes inbring bestaande uit al die volke, tale en nasies. Hy beloof ook om deur sy kruis almal wat die Vader Hom gegee het, te trek. Daarom gee Hy ook met sy hemelvaart die allesomvattende bevel om heen te gaan en dissipels te maak. Hierdie opdrag vind ‘n duidelike fokus in Lukas 24:45-47 met die klem op die verkondiging aan al die nasies en ook in Handelinge 1:8 waar Christus se kerk beskryf word as sy getuies (martures). God betrek sodoende sy kerk in sy sending, maar God gebruik sy kerk om hierdie Blye Boodskap in wyerwordende sirkels uit te dra. Die doel van hierdie sending is duidelik, naamlik πάντα τὰ ἔθνη, (al die nasies).
1.5. Die apostel Paulus beskryf hierdie sending van God in en deur sy Seun as sy aksie om die wêreld met Hom te versoen (2 Korintiërs 5:19).
Samevatting
Vanuit bogenoemde beredenering blyk die volgende van wesenlike belang te wees:
(1) Die uitdrukking Missio Dei is nie net ‘n begrip van akademiese belang nie. God is ʼn sturende God wat op dinamiese wyse in beheer bly van hierdie wêreld.
(2) God eis van sy kerk(kuriake, hulle wat aan die Here behoort) deelname aan hierdie sending (Missio Dei). Hoe? Deur om te gee en op te pas.
(3) Die bedoeling met die offer van die kruis van Jesus Christus word deur Homself in missionale- en wêreldperspektief gebring.
(4) ‘n Missionale kerk maak erns daarmee om te gaan om getuies te wees tot aan die einde van die aarde en om moeite te maak met al die nasies.
(5) Om missionaal te leef, is ‘n intensionele bestaanswyse in die opsig dat God se Woord die trekkende krag is.
2. Die Ou Testament
2.1 Die kerk is God se begenadigde uitgeroepenes (Genesis 12). God roep vir Abram uit die heidendom om hom (en sy nageslag) deel te maak van God se Missio Dei. Deur Abram en sy nageslag wil God die wêreld met Sy genadeboodskap bereik (vgl Genesis 12:3 – “...In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word ...”). Hierdie spesifieke roeping van Abram het egter ‘n universele bedoeling, omdat God deur Abram die nasies wou seën. In Genesis 22:18, nadat Abraham bereid was om sy seun te offer en God voorsien het, word dieselfde belofte herhaal. Hierdie woorde eggo ook in Handelinge 3:25 en in Galasiërs 13-16. God vestig Israel in die middelpunt van die bekende wêreld: Die land Kanaän was in ‘n sin die wêrelddeel wat op die een of ander manier ‘n sentrale rol in die wêreld van daardie tyd gespeel het. Alles wat met Israel gebeur het, het ‘n baie duidelike boodskap aan al die volke en die wêreldryke van die outyd deurgegee. God wou met Sy uitverkore/uitgeroepte volk ‘n genadegetuienis in die wêreld oprig, soos Hy dit reeds aan Abram bekendgemaak het.
2.2 God stuur vir Josef deur die vernedering om deur sy eie broers as slaaf verkoop te word, vooruit na Egipte (Genesis 37:12-36). In Genesis 45:5 kon hy selfs teenoor sy broers bely dat die Here hom gestuur het om sy volk en ook die Egiptenare te red te midde van hongersnood.
2.3 Nadat baie jare in Egipteland verloop het, breek die moment van die uittog aan. Die eksodus was nie alleen ‘n daad van bevryding wat God aan sy volk Israel bewys het nie, maar ook ‘n baie definitiewe leerskool vir hulle. In Eksodus 6:6-8 vind ons ʼn uitdrukking van God se sending in die bestaan van sy volk. Hy sou hulle verlos van die juk van die Egiptenare om in ‘n verbondsverhouding met Hom te staan en hulle sodoende in die beloofde land te bring. Deur dit alles moes hulle leer dat dit die Here hulle God is wat al hierdie dinge vermag.
2.4 In Eksodus 19:5-6 breek daar as’t ware ‘n nuwe era aan vir God se volk in sy koninkryk. Uit al die volke wil God sy volk uitkies as ‘n gewyde volk. Hy wou van hulle ‘n koninkryk van priesters maak. Hiermee kom die besondere saak van God se verkiesende liefde op die voorgrond. Alhoewel God op universele wyse oor alles heers, kies Hy sy volk as ‘n gewyde volk. Priesters se uitsluitlike taak is tog om te bedien. Israel word sodoende gekies en geroep om tussen al die volkere te bedien (vgl ook 1 Pet 2:9). In hierdie woorde word ‘n duidelike missionale roeping vir Israel gevind. Dit wat God in en onder sy volk gedoen het, moes ‘n voorbeeld vir die ander nasies wees. Dit was ook die geval indien hulle die verbond met God verbreek het (Deuteronomium 29:24-26).
2.5 In die loflied van Moses (Eksodus 15) sing hy daarvan dat die Here vir altyd regeer. Hy is met ander woorde Koning. In Deuteronomium 10:14-19 word die koningskap van die Here op paradoksale wyse uitgewerk. Die Here se heerskappy word geplaas teenoor sy medelye en omgee. Dit blyk duidelik vanuit die gedeelte dat alles en almal aan Hom behoort. Sy liefde betoon Hy ook aan hulle wat alleen en eensaam is.
2.6 In Deuteronomium 10:17-19 word God se liefde teenoor vreemdelinge en mense wat swaarkry ook uitgedruk. God se geregtigheid (sedek) moes in die optrede van sy volk na vore kom.
2.7 Die boek Jona word allerweë bestempel as die missionêre boek in die Ou Testament.
2.8 In Psalm 67:1-7 bring die Psalmdigter die gedagte tuis dat alle mense God moet loof vir sy verlossing. Al die nasies moet hieroor bly wees en sing. So sing die digter daarvan dat deur God se seën wat Hy aan sy volk bewys dit ook sigbaar vir die nasies sal word (vgl ook Psalm 22, Psalm 86:9-10, Psalm 99:1-3 en ook Psalm 117).
2.9 In die profetiese boeke in die Ou Testament word God se plan van verlossing vir die nasies op besondere wyse uitgewerk. In Jesaja 2:2-3 word die profetiese visie aangetref van die nasies wat na Sion sal kom om die Here te aanbid (vgl hierdie motief ook in Jesaja 14:26, 19:23-25, 24:13-16 en 34:1-2). In Jesaja 42 word Israel as dienaar beskryf waardeur God geregtigheid na die nasies sal bring en so ook lig na die heidene sal bring. In Jesaja 43 word Israel beskryf as God se getuie teenoor die nasies. In Jesaja 56-60 word dieselfde perspektief ook ingekleur.
2.10 Die mislukking van die volk Israel: Die volk Israel het egter in haar hoë roeping misluk. Hulle wou dieselfde as die wêreld wees en het meer in die afgode van die wêreld belanggestel en het gevolglik nie hulle missionale roeping ter wille van die hele wêreld uitgeleef nie.
2.11 Die missonale perspektief van die ballingskap: Wanneer God die volk Israel in ballingskap stuur, is dit nie ‘n prysgawe van Sy genadeplan vir die wêreld nie, maar ‘n herbevestiging van Sy missio Dei. In die ballingskap sou die volk Israel instrumenteel daartoe wees om die wêreld van hulle tyd (Romeinse Ryk) vir die uitdra van die Evangelie voor te berei.
2.12 Na sewentig jaar in ballingskap sorg God dat ‘n gedeelte van sy volk terugkeer uit ballingskap. Hierdie terugkeer na hulle vaderland was ook vir Juda ‘n groot leerskool. Aan die een kant moes hulle leer dat God uniek en enig is, maar aan die ander kant moes hulle ook die universele gerigtheid van sy werking leer ken. God se volk het geweet dat Hy die Here, die God is (Jahweh ha Elohim). Die ander nasies het nie geweet nie (Jesaja 44:18) Daarom moes Israel getuies hiervan wees, naamlik dat die Here, die God is.
2.13 In Sagaria 8:13 word God se volk weer beskryf as ‘n seën vir die nasies. In Sagaria 9:9-10 word die universele gerigtheid van God se verlossing beskryf.
Afleidings
(1) God se sending in die Ou Testament het ‘n sentripetale karakter (centrum+petere= middelpunt-soekend of sentrum-soekend ). Deur Israel en deur die voorbeeld wat hulle aan die nasies moes stel, moes hulle op magnetiese wyse die aandag op God vestig. Die eer en verheerliking van God (doksologie) is daarom eie aan hierdie sentripetale missionale bestaanswyse.
(2) Om deur God geseën te wees met al sy seëninge hou in dat gelowiges ook ‘n seën vir ander mense sal wees.
(3) In die Ou Testament ontvang Israel die opdrag om regverdig en met oorgawe God se Naam te verheerlik om sodoende God se koningskap oor alle nasies te laat skitter. Die opdrag van die volk was dus om in die midde van die volkere te leef en deur hulle lewenswyse die ander volkere na God te trek.
(4) In die Ou Testament blyk ook die mislukking van Israel se rol om ‘n lig onder die nasies te wees. Daarom ook die verwagting van die lydende Kneg wat sou kom.
(5) Die missionale verwagting in die Ou Testament beskik ook oor die eskatologiese spanning van die “reeds” en “nog nie”. Daardie dag dat al die nasies kom om God te dien, is steeds die dag waarna hunkerend vooruitgekyk word. Juis daarom is die koms van die Verlosser, Jesus Christus ‘n noodsaaklike deel van God se sending.
3. Die Nuwe Testament
3.1 Die volheid van die tyd: Op ‘n tyd wat God daarvoor bepaal het, is Jesus Christus in die wêreld gebore (Efesiërs 1:10). In Hom bewerk God ‘n genadige verlossing tot versoening van sondes en bring God die Nuwe Testamentiese kerk tot stand. Die “inkarnasie” is niks anders nie as die uitvoerende Triniteit (missio Dei ) wat “buite God self” in die gevalle mense-wêreld “intree” ter wille van die sondaars se verlossing. Die kerk van die Nuwe Testament word nou God se “uitgeroeptes” wat Hy, na aanleiding van Sy belofte aan Abraham wil gebruik om die hele wêreld (alle volke, tale en nasies) met die Evangelie te bereik (Efesiërs 1:11 en 13; Matteus 28:19-20).
3.2 In Lukas 2:30-32 waar die gebed van Simeon opgeteken staan, loof hy die Here daarvoor dat hy die verlossing kon sien wat God voor die oë van die volkere gereed gemaak het tot verligting van die nasies en tot eer van sy volk Israel. Die evangelies beskryf die koms van Jesus as die vervulling van die belofte van God as ‘n sending na die wêreld.
3.3 In Lukas 3:6 haal Johannes die Doper in sy kragtige prediking aan vanuit Jesaja 40:3- 5 van hoedanig alle mense die verlossing in Christus sal sien.
3.4 Gedurende Jesus se lewe en werk hier op aarde was Israel dikwels die fokus van sy bediening, sonder dat dit eksklusief hierin opgegaan het. In Matteus 2:1-11 is wyse manne uit die Ooste betrokke by die geboorte van Jesus. In Matteus 8:1-13 het Jesus ‘n oog vir die Romeinse offisier. Jesus spandeer tyd en moeite met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. By die kruisiging is dit ‘n Romeinse soldaat wat moes uitroep dat hierdie man waarlik die Seun van God is. In die Bergrede word die kerk beskryf as die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.
3.5 Jesus plaas sy sending na hierdie wêreld toe ook gedurig op die agenda. In Johannes 10:16 praat Hy oor die skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hy moet hulle ook lei dat hulle ook deel van hierdie kraal sal wees.
3.6 In die Bergrede vind ons ‘n omkeerstrategie in terme van die tipiese denke oor God se koninkryk. Die klem val hierin baie meer op die innerlike verandering wat by God se volgelinge moet intree. Hierdie deugde in die Bergrede vorm tegelyk ook die basis vir die transformering van die samelewing.
3.7 Jesus vertel die koninkryksgelykenisse in Matteus 13. God se Woord is die saad wat gesaai sal word en wat op verskillende bodems sal val. Verder word die koninkryk van God ook vergelyk met ‘n net waarmee goeies en slegtes na die land gesleep sal word. Die taak van die kerk hierin is om te bly saai en om die nette te bly uitgooi. God sorg vir die oes en opbrengs.
3.8 Jesus self antisipeer die dag dat ander mense van alle windrigtings sal kom om deel van God se koninkryk te wees (Matteus 8:11-12 en Lukas 13:29).
3.9 In Lukas 12 waar Jesus die wet van die sterwende koringkorrel beskryf en aandui watter tipe dood Hy sal sterf, plaas Hy sy eie dood binne ‘n wêreldperspektief. Die Grieke wou eer aan Hom bewys, maar Hy bevestig dat die Koringkorrel eers moes sterf om ‘n oes te kan lewer.
3.10 Met sy hemelvaart bring Jesus die uithoeke van die aarde in die gesigsveld (Matteus 28:18-20). Die lyne van die “is” en die “het”, is baie opmerklik. Hiermee word die profesie van Daniël 7:14 ook ‘n vervulde werklikheid. Die gedagte en bedoeling is om dissipels te maak. Gaan, doop en leer beskryf hoedanig dit moet geskied. Hierdie dissipels maak van alle nasies, is intensioneel (gaan!). Hierdie deelname aan God se sending en gehoorsaamheid aan sy opdrag is nou tegelyk ‘n dissipel maak van nasies. Hierdie opdrag word gekoppel aan die allesoorheersende versekering dat dit nooit uit eie krag geskied nie, maar deur sy krag wat tot aan die einde van alles met sy kinders sal wees. Hierdie opdrag bly lewenslank die kerk se opdrag. Die einde sal eers aanbreek wanneer hierdie kosbare Woord aan alle nasies gebring is (Matteus 24:14).
3.11 Johannes plaas in sy evangelie klem op die stuur-gedagte. In Johannes 20:21b praat Jesus daarvan dat die Vader Hom na hierdie wêreld toe gestuur het. In sy Hoëpriesterlike gebed bid Hy vir sy kerk wat na die wêreld toe gestuur word. Die kerk beskik immers oor so ʼn kragtige boodskap vir hierdie wêreld.
3.12 In Handelinge 1:8 word hierdie deelname aan God se sending of die kontoere daarvan om gestuurdes van God te wees, omlyn. In die Ou Testament was die profetiese verwagting daar gewees van die heidene wat na Jerusalem sal stroom. In Handelinge praat Lukas van die evangelie wat na die nasies sal uitgaan vanaf Jerusalem. In die opbou van die boek Handelinge kom dit ook op besondere wyse na vore:
3.12.1 Handelinge 1-7: Die evangelie in Jerusalem.
3.12.2 Handelinge 8-9: Die evangelie in Judea en Samaria.
3.12.3 Handelinge 10-28: Die evangelie na die uithoeke van die aarde.
3.13 In Handelinge 1:8 moes die dissipels en so ook die kerk van alle eeue leer dat die deelname aan die volheid van God se koninkryk waaroor daar soveel verwagtinge bestaan, ‘n sending van krag (dunamis) sou wees. Deur die dinamiese/dinamietagtige werking van die Heilige Gees sou die kerk gemotiveer en bemagtig word om die evangelie uit te dra na alle uithoeke toe. Hoe? Deur te getuig van wat hulle gesien en gehoor het! Hierdie uitdrukking getuig, word altesaam 39 maal in die boek Handelinge aangetref. Die woord getuig is ontleen aan die regswêreld en het alleen krag vir in so verre dit die waarheid ondersteun. Die kerk is daarom nie getuies van ʼn ding of saak nie, maar van ‘n Lewende Persoon, Jesus Christus. Daarom praat Lukas in Handelinge 1:8 van die eindes van die aarde (eschatou tes ges).
3.14 In die Pauliniese Briewe word die lewens- en bestaanswyses van hierdie gemeentes in ander dele van die wêreld voor oë gehou. Paulus noem homself die apostel van die heidene (Romeine 11:13, Galasiërs 2:8). In Romeine 10:8-15 word die noodsaak daarvan beskryf dat daar persone moet wees wat die Woord van God verkondig. Deur die hoor van die Woord, kom die geloof en die omkeer. Deur die verkondiging van die Woord aan alle mense, weerklink die wonderlikheid van diegene wat die Goeie Boodskap bring. Die begrippe “kerux” en “euangelion” is baie opmerklik. In hierdie begrippe lê opgesluit die gedagte dat verkondigers van die Woord die boodskappers is van die oorwinningsboodskap van Jesus Christus.
3.15 In 1 Korintiërs 9:19-23 beskryf Paulus die belangrike rol van aanpasbaarheid in hierdie boodskap wat hy bring. Sonder om enigsins van die waarheid van die Woord weg te skram, rig Hy die verkondiging na gelang van elke volk en nasie se eiesoortige omstandighede.
3.16 In die Efesiërbrief word die klem geplaas op die nuwe eenheid in die kerk van almal wat die Hoofskap van Jesus Christus erken. Daarom begin die apostel in hierdie beskrywing met die loflied van die uitverkiesing. Deur hierdie daad van die uitverkiesing as God se grondplan, verenig Hy mense onder een Hoof, Christus. In Efesiërs 2:1-10 word beskryf wat God en in deur sy Seun vir hierdie liggaam van Hom gedoen het. In Efesiërs 2:11-18 word hierdie nuwe mensheid, bestaande uit alle volke, tale en nasies beskryf. Hierdie eenheid is slegs moontlik op grond van die verkondiging van die evangelie waardeur hulle gebring word voor hierdie waarheid en op grond van God se werk in hulle, hulle die geloof ervaar (Efesiërs 3:1-13). Die nuwe Israel: “... Nog nooit tevore in die geskiedenis is die “geheimenis van (God se) sy wil” (Efesiërs 1:9); die “geheimenis van Christus” (Efesiërs 3:4); aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou (Efesiërs 3:5) deur die Gees ... “geopenbaar het nie. God se verborge plan (Efesiërs 3:9 en 10) moet nou deur die kerk verkondig word. Die implikasie van een multikulturele-kerk wat as liggaam van Christus bestaan en ‘n missionale taak in die wêreld het, word baie duidelik beklemtoon.
3.17 Vanuit die Pauliniese Briewe blyk hierdie sendingbeweging van God asook die besef dat Hy sy kerk deel maak van dié beweging. In Christus het daar ‘n nuwe eenheid gekom. Vanuit die ander briewe in die Nuwe testament blyk selfs die gedagte dat hierdie nuwe eenheid, die volk van God, ‘n uitverkore priesterdom is. Die kerk van alle eeue is daarom deelnemers aan hierdie Missio Dei.
3.18 Die dissipels se opdrag (Matteus 28 en Handelinge 1:8) begin in alle erns met die uitstorting van die Heilige Gees. Sonder die Dinamiet van God kan niemand deel in hierdie missionale roeping nie. Daarom kan en mag die rol van die Heilige Gees nooit onderspeel word nie. Die Gees word daarom beskryf as die Gees van die waarheid (Johannes 14:7, 15:26, 16:13). Die Gees bind sy kerk en herinner sy kerk aan dit wat Jesus kom doen het. Die boodskap wat in die uitdra van die evangelie gebring word, is daarom afkomstig van die Gees. Die Heilige Gees alleen kan die wêreld oortuig van hulle sonde (Johannes 16:7-11). Daarom verrig die Heilige Gees die taak van oortuiging. Die Heilige Gees kan alleen die wonder van die wedergeboorte deur die kragtige verkondiging van die Woord voortbring (Johannes 3:5-8 en Titus 3:5). Die kerk is boonop die produk of fabrikaat van die Heilige Gees (1 Korintiërs 12:13). Juis daarom is die kerk ook die Gees se voertuig na die wêreld toe. Daarom skenk die Gees ook gawes aan gelowiges om hulle opdrag te kan verrig (1 Korintiërs 12, Efesiërs 4:7-16).
3.19 Indien die rol van die Heilige Gees bely word, is die uitvloeisel hiervan die belangrike rol van die gebed in missionale kerkwees. In en deur die gebed word immers uitdrukking gegee aan die afhanklikheid van gelowiges teenoor God. In Matteus 9:38 beveel Jesus sy dissipels dat hulle moet bid dat God werkers na die land sal stuur om die oes in te bring. Paulus dra dit aan die gelowiges in Kolosse op om te bid vir die geopende deure en duidelikheid in Woordverkondiging (Kolossense 4:3-4). In 2 Tessalonisense 3:1-2 word die gelowiges opgeroep om te bid dat God se Woord mag versprei. Paulus vra ook dat die Efesiërs sal bid dat hy die vrymoedigheid sal hê om God se Woord te verkondig.
Afleidings
(1) God se sending in die Nuwe Testament besit ‘n sentrifugale karakter (centrum+fungere= sentrum-vlugtend of middelpunt-vliedend). God se nuwe volk/sy kerk word nou uitgestuur na al die nasies. Die sentripetale beweging van die Ou Testament het oorgegaan in ʼn sentrifugale beweging.
(2) In die Nuwe Testament is God se kinders lewende stene van sy geestelike huis. Hulle is tempels van die Heilige Gees. Daarom is die kerk heroute van die goeie boodskap van oorwinning in en deur Jesus Christus.
(3) Om missionaal te leef, vra gehoorsaamheid aan die opdrag om te gaan of anders geformuleer om nie te gaan nie, is ongehoorsaamheid.
(4) Kerkwees moet ‘n kragtige teken wees van hoedanig God sy koninkryk in mense se lewens manifesteer. In ons kerkwees moet die doksologiese en verheerlikende lewenswyse ‘n getuienis wees teenoor die wêreld en hulle sodoende nadertrek om ook te deel in hierdie vreugde. Die kerk moet tekenend wees, instrumenteel wees en ook die eerste vrugte van die koninkryk van God wees sodat die wêreld as’t ware ‘n voorsmaak van die koninkryk kan kry (Newbegin, 1994:33).
(5) Die werking van die Heilige Gees in missionale kerkwees is onontbeerlik.
(6) Die rol van die gebed in die voortgang van God se Woord is ‘n sentrale saak in die bestaan van die kerk in die Nuwe Testament.
(7) In ons missionale kerkwees moet daar ook die eskatologiese verwagting bestaan van alle mense wat die knie voor God buig sodat die wederkoms kan aanbreek. Die reeds en nog nie sal op aarde altyd deel wees van die kerk se bestaanswyse. Wat egter wel waar is, is dat die kerk se deelname aan God se sending ‘n duidelike bewys is van die voortgang van God Drie-enig deur hierdie wêreld.
SAMEVATTING
1. Samevatting van studieresultate van Afrikaanssprekende Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Die Deputate verwys na Bylae 5 (ongepubliseerd) waarin ‘n kort samevatting gegee word van dr Phia van Helden se studie. Al haar artikels verskyn ook op die CD en kerke kan hulle daarvan vergewis.
2. Ooreenstemmende kerkgroeifaktore uit ander studies wat veroorsaak dat kerke groei. Die gebrek aan hierdie elemente sou dan kerkkrimping in die hand werk. Die volgende faktore werk kerkgroei in die hand:
2.1 Bemagtigende en dienende leierskap
Die rol van die predikant as leier wat die gemeente dien en toerus is van kritieke belang in gemeentes wat groei. Leiers wat hulleself vir langer as normale tydperke tot ‘n gemeente verbind dra ook by tot groei. Die voortdurende opleiding van die predikant en ampsdraers is kernbelangrik vir die groei van die gemeente. ‘n Kerkraad wat ‘n gemeente kan lei tot verandering op grond van Skrifbeginsels laat so ‘n gemeente groei. Leierskap wat Skriftuurlike visie openbaar en die gemeente saam kan neem om daardie visie te laat realiseer bewerk groei.
2.2 Gawe-georiënteerde bedieninge deur ampsdraers en lidmate
‘n Bediening van hoë gehalte wat mense en die gemeenskap betrek kan alleen gerealiseer word indien lidmate volgens hulle gawes gebruik word en deeglik toegerus word om dienswerk van hoë Skriftuurlike gehalte te doen.
2.3 Geesvervulde spiritualiteit (godsvrug – 2 Pet 3:11) ‘n Belewenis van God Drie-enig se teenwoordigheid in die midde van die gemeente deur die Woordverkondiging, onderlinge liefde en getroue roepingsvervulling dra by tot die opbou en uitbou van die gemeente.
2.4 Funksionele bedieningstrukture
Bedieningstrukture soos kategetiese onderrig wat ouers en kinders toerus vir die uitdagings van lewe bring groei mee.
2.5 Inspirerende eredienste
Die verkondiging van die Woord staan sentraal in enige kerkgroei. Evangelieverkondiging wat die gemeente opbou en ‘n missionêre identiteit kweek en bevestig bring groei mee. Die belewenis van die hele erediens as ontmoeting met God waarin die Here spreek en die gemeente God aktief aanbid dien as kragbron vir die opbou en uitbou van die gemeente en ‘n missionale lanseerblad.
2.6 Volhardende gebedsbediening (Ef 6:18-20; 1 Tess 5:17) ‘n Kerk wat erns maak met volhardende gesamentlike gebede op alle vlakke van die bediening ervaar groei.
2.7 Holistiese kleingroep bediening ‘n Kerk wat lidmate toerus om getroue volgelinge van Christus te wees deur as alternatiewe gemeenskap anders as die wêreld leef, word ‘n trekkrag vir mense van die wêreld. Die persoonlike geloofsgroei van lidmate is uiters noodsaaklik vir die groei van die kerk.
2.8 Relevante, effektiewe en Skrifgetroue evangelisasie
Die kerk moet sy kulturele konteks verstaan en die gemeenskap waarbinne hy leef ken en verstaan. Die behoeftes van die gemeenskap verskaf die groeipunte waar die kerk met sy bediening betrokke kan raak. Saam met die nood van die omgewing moet die gemeente gelei word om betrokke te wees by die sending na onbereikte mense in groepe in ander wêrelddele. Lidmate moet toegerus word met woorde wat na Christus wys en om dade van liefde aan hulle medemens te betoon. Daar moet by die gemeente ‘n aktiewe verbintenis tot die uitvoering van die Groot Gebod wees.
2.9 Liefdevolle verhoudinge
Waar die bou onderlinge verhoudinge van gemeentelede in die sentrum staan van bediening word mense opgewek tot daadwerklike liefde en ondersteuning van mekaar en van mense buite die gemeente.
2.10 Rentmeesterskap
Deur gelowiges wat uit die Woord toegerus te word om Bybelse rentmeesterskap uit te leef en volgens vermoë by te dra vir die opbou en uitbou van die gemeente, voorsien die Here middele om groei te befonds.
2.11 Profetiese getuienis in die wêreld
Kerke wat die Skrif laat spreek en profetiese getuienis lewer teenoor die samelewing met betrekking tot liefde en geregtigheid word ‘n trekkrag vir die wêreld. Hierdie getuienis moet egter gedra word deur aktiewe betrokkenheid by die nood van die wêreld.
3 Konklusie
Aangesien die navorsing toon dat hierdie 11 faktore kerkgroei bevorder is die Deputate van oordeel dat gemeentes hulleself met groot vrug aan die teenwoordigheid van en bediening van hierdie elemente kan meet en plaaslik bedieningsplanne in werking kan stel om hierdie kernelemente in die gemeente te bedien. Die ontledingsmodel van Natural Church Develpment kan hier as handige instrument gebruik word.
HOOFSTUK 4: OPROEP TOT BEKERING
Sake waaroor die Sinode besluit het:
In die lig van en in aansluiting by reeds bestaande besluite (sien hierbo) roep die Sinode die kerke om haar te verwonder oor die genade dat ons deel het aan Christus en die verwerkliking van God se ewige raadsplan op aarde deur die voortgang van die evangelie.
1. Oproep tot bekering
In die hart van ‘n omkeerstrategie lê die gedagte dat mense nuut moet word. Omkeer is ‘n saak van bekering, van dankbare verbintenis en daaglikse hertoewyding aan God en om jou nie te skaam vir die evangelie van God nie (Rom 1:16 en Op 2:1–7). Daar is baie dinge waarin die GKSA getrou is aan die Here maar daar is ook aspekte waarin lidmate (en die GKSA in geheel) tot inkeer moet kom. Een van hierdie aspekte is die gebrek aan ‘n missionêre roeping en hierdie Rapport fokus op hierdie besondere aspek. Hierdie klem op die uitbou van die kerk, kan nie los gesien en hanteer word van die roeping om die kerk op te bou (bewaring van die kerk) nie.
Die Rapport bedoel nie dat die GKSA moet opgaan in ‘n apostolaatsteologie asof die totale doel van die kerk net is om ‘n missionale kerk te wees nie, maar omdat die GKSA in haar kerkwees hierdie aspek ernstig verwaarloos, word die klem hierop geplaas. Die Rapport sal ook uitwys dat die opbou van die kerk op Bybelse beginsels om ‘n gesonde kerk te wees, noodwendig ook tot die uitbou en groei van die kerk sal lei.
2. Waarvan moet ons ons bekeer?
2.1. In die kerkverband kom verkeerde sieninge voor wat struikelblokke vir gesonde kerkwees veroorsaak al word dit duidelik en Skrifgetroue uiteengesit in ons Belydenisskrifte en Kerkorde. Uit vraelyste en besprekings by omkeerstrategie konferensies en bevindinge in vorige Sinoderapporte het die volgende verkeerde sieninge geblyk wat struikelblokke vir gesonde kerkwees en ‘n gebrek aan ywer om uit te reik veroorsaak. (Die onderwerpe wat hier net aangestip word behoort deur die SBTB in diepte uitgewerk te word. Dit sal ook die besef tuisbring dat ‘n omkeer as voortgesette reformasie veel meer moet behels as blote oppervlakkige misleidende vertoon “windowdressing”.)
2.2. Godskennis
Dit blyk dat sommige Gereformeerde lidmate ‘n oppervlakkige deurleefde kennis het van God self in sy soewereiniteit, majesteit, heiligheid almag, en liefde. Dit lei tot ʼn gebrek aan kinderlike vrees vir die Here wat juis ‘n kernaspek is van Gereformeerde godsvrug (spiritualiteit) en ‘n missionale dryfkrag is (vgl bv Hand 9:31:... terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder). Daar moet dus bo-al ‘n bekering kom tot God self, soos Hy Homself bekendstel wat dan sal lei tot werklike godsvrug en geloofsbelewing wat getuig van oorgawe en toewyding aan die Here en ‘n lewe in kinderlike vrees vir die Here (Ps 130:2 Totiusberyming).
2.3. Kerkbeskouing
Dit blyk dat daar kerkbeskouinge in swang is wat nie Christosentries en Teosentries is nie en die gemeente byna sien as ‘n sosiale klub. Daar word nog te veel gepraat oor ONS kerk en te min oor die Here se kerk waarvan Christus die hoof is wat deur sy Woord en Gees moet regeer. Dit lei tot ‘n sterk na binne gerigte kerkbeskouing en gevolglike verbruikersmentaliteit in die kerk by sommige lidmate. Sommige lidmate kla baie gou oor die kerk so min vir hulle doen maar gee weinig blyk dat die kerk wat op God gerig is, juis deur die liefde van Christus gedring moet wees om gerig te wees op die nood van broers en susters in die kerk asook ware bewoënheid vir die ongelowige wêreld (bv Matt 9:36 “En toe Hy (Jesus) die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” en 1 Pet 2:9 “... julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, OM TE VERKONDIG die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig...”). Die gesindheid van ons Here soos blyk uit Matteus 20:28 naamlik dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien, vind nie altyd in die kerke gestalte nie (Fi. 2:5–11 en Markus 10:45).
2.4. Verbondsoutomatisme
Hierdie verkeerde denke wat ook in vorige Sinoderapporte uitgewys is, hou in dat alle gedoopte lidmate as wedergebore en gelowige mense gesien moet word. Uit navrae blyk dit dat daar selde in kerke oor die noodsaak van wedergeboorte gepreek en onderrig gegee word en selde bekeringsoproepe (ook oproepe tot wortelbekering) in die prediking en onderrig in Gereformeerde kerke gemaak word. Die waarheid dat die gehoor in eredienste altyd ‘n “gemengde gehoor” en altyd ‘n mengsel van geestelik volwasse mense, onvolwassenes en onbekeerdes sal bevat, kom nie uit in bedieningsstyl nie. Dit lei tot formalistiese aflegging van belydenis van geloof, ʼn gebrek aan die toepassing van liefdestug en ‘n gebrek aan gereelde bekeringsoproepe in prediking wat ook ... aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie... (HK, antw 84).
2.5. Gebrek aan missionêre gerigtheid
Verskeie vorige Sinoderapporte het reeds telkens aangetoon dat daar ‘n eensydige fokus is op bewaring van die kerk en weinig op vermeerdering, terwyl die Bybel en die Gereformeerde Belydenisskrifte bewaring en vermeerdering as geïntegreerd sien en dat die een nooit sonder die ander sal plaasvind nie.
2.6. Ampsdraer kerke
Volgens die Nuwe Testament en die Belydenisskrifte is dit baie duidelik dat elke gelowige gawes ontvang wat gebruik moet word in bedieninge tot opbou van die gemeente (HK, antw 54; NGB, art 28). Dit is merkwaardig hoe dikwels die woorde almal en elkeen voorkom in al die teksgedeeltes wat handel oor die gawes van die Heilige Gees (Rom 12:3; 1 Kor 12:11 en 28 31; Ef 4:7 en 1 Pet 4:10). Waar elke gelowige sy of haar gawes gebruik, word die gemeente kwalitatief sowel as kwantitatief opgebou. Tog blyk dit dat sowel dominees as kerkraadslede en lidmate nog weinig besef dat elke gelowige se gawes erken en aangewend moet word in die opbou en uitreik van die gemeente en dat dit deel is van jou nek onder die juk van Jesus Christus te buig om volgens die GAWES WAT GOD AAN ELKEEN GEGEE HET, ander in die opbou van hulle geloof te dien (NGB, art 28). Voorgangers wat nie daarin slaag om gelowiges onder hulle sorg se gawes te laat ontluik en hulle te motiveer en te begelei tot dienswerk volgens hulle eie gawes nie, vervul nie werklik hulle roeping nie.
2.7. Postmodernistiese relativisme
Die postmoderne relativisme in die samelewing, wat vasstaande waarhede ontken en erkende Bybels gefundeerde morele waardes nie meer aanvaar nie, het kerke ook ingesluip en veroorsaak dat ongelowiges en buitekerklikes soms geen andersheid by die kerkmense en die kerk as alternatiewe gemeenskap sien nie. Dit wil voorkom asof blatante sonde soos seksuele immoraliteit, homoseksualiteit, materialisme, rassisme, magsmisbruik en sosiale onreg, afgodery soos voorvader verering, toordery en heksery, soms nie met vrymoedigheid openlik en direk aangespreek word nie en selde liefdevolle korrektiewe kerklike tug toegepas word oor mense wat openlik met sulke sondes volhard wat in die Nagmaalsformulier opgenoem word. Wanneer die kerk weinig verskil van die wêreld verloor die kerk juis sy missionêre trekkrag.
3.3 Waartoe moet ons bekeer? (missionêre opdrag)
Lees asseblief Bylae 1 vir die volle uiteensetting van die eksegetiese lyne wat die Deputate getrek het en waaruit die volgende afleidings gemaak is ten opsigte van
3.3.1 Die begrip Missio Dei
(1) Die uitdrukking Missio Dei is nie net ‘n begrip van akademiese belang nie. God is ‘n God wat stuur en op dinamiese wyse in beheer bly van hierdie wêreld. (Die Deputate verwys in hierdie verband na die artikel van prof G Breed met die titel “’n Kritiese blik op missio Dei in die lig van Efesiërs” wat ook op die CD verskyn.)
(2) God eis van sy kerk (kuriake, hulle wat aan die Here behoort) deelname aan hierdie sending (Missio Dei). Hoe? Deur om te gee en op te pas en uit te reik na ongelowiges en buite kerklikes.

(4) ‘n Missionale kerk maak erns daarmee om te gaan om getuies te wees tot aan die einde van die aarde en om ‘n verlange te hê dat mense uit al die nasies die knie voor Jesus Christus sal buig.

3.3.2 Afleidings gegrond op Ou Testamentiese eksegetiese lyne
(1) God se sending in die Ou Testament het ‘n sentripetale karakter (centrum+petere= middelpunt-soekend of sentrum-soekend). Deur Israel en deur die voorbeeld wat hulle aan die nasies moes stel, moes hulle op magnetiese wyse die aandag op God vestig. Die eer en verheerliking van God (doksologie) is daarom eie aan hierdie sentripetale missionale bestaanswyse.
(2) Om deur God geseën te wees met al sy seëninge hou in dat gelowiges ook ʼn seën vir ander mense sal wees.

(5) Die missionale verwagting in die Ou Testament beskik ook oor die eskatologiese spanning van die “reeds” en die “nog nie”. Daardie dag dat al die nasies kom om God te dien, is steeds die dag waarna hunkerend vooruitgekyk word. Juis daarom is die koms van die Verlosser, Jesus Christus ‘n noodsaaklike deel van God se sending.
3.3.3 Afleidings op grond van Nuwe Testamentiese eksegetiese lyne
(1) God se sending in die Nuwe Testament besit ‘n sentrifugale karakter (centrum+fungere= sentrum-vlugtend of middelpunt-vliedend). God se nuwe volk/sy kerk word nou uitgestuur na al die nasies. Die sentripetale beweging van die Ou Testament het oorgegaan in ‘n sentrifugale beweging.

(4) Kerkwees moet ‘n kragtige teken wees van hoedanig God sy koninkryk in mense se lewens manifesteer. In ons kerkwees moet die doksologiese en verheerlikende lewenswyse ‘n getuienis wees teenoor die wêreld en hulle sodoende nadertrek om ook te deel in hierdie vreugde (vgl Hand 2:47; 1 Kor 14:24, 25). Die kerk moet tekenend wees, instrumenteel wees en ook die eerste vrugte van die koninkryk van God wees sodat die wêreld as’t ware ‘n voorsmaak van die koninkryk kan kry (Newbegin, 1994:33).
(5) Die werking van die Heilige Gees in missionale kerkwees is onontbeerlik. Daarom moet besef word dat as die Heilige Gees bedroef word (Ef 4:30) en uitgeblus word (1 Tess 5:19) deur sonde in die kerk die gelowiges “soms ‘n tyd lank die besef van die genade verloor. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur ‘n opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn” (DLR, 5:5).

(7) In ons missionale kerkwees moet daar ook die eskatologiese verwagting bestaan
van alle mense wat die knie voor God buig sodat die wederkoms.
3.4 ‘n Omkeerstrategie? Die noodsaak hiervan?
3.4.1 Die begrip “omkeer” In die hart van ‘n omkeerstrategie lê die gedagte dat mense nuut moet word. Omkeer is ‘n saak van bekering, van dankbare verbintenis en daaglikse hertoewyding aan God. Hierdie belangrike aspek word op talle plekke in die Bybel geopenbaar, maar op eiesoortige manier in die briewe aan die 7 gemeentes in Openbaring 2 en 3, veral Openbaring 2:4-5 en Openbaring 3:1–6. Hierdie gedeeltes word daarom as ʼn sentrale uitgangspunt gebruik, soos talle ander gedeeltes ook as uitgangspunt kon dien.
3.4.2 Die gemeente van Efese: Wanneer goed in die pad van die heel beste staan! Uiterlik het alles goed gegaan in die gemeente van Efese, ‘n tipiese voorbeeld van miernesbedrywighede. Die dop het goed gelyk, maar die pêrel het uitgeval, naamlik liefde. Die gemeente word aangekla dat sy haar eerste liefde verlaat het of dat sy die Koning van die kerk, Christus nie meer so lief het as in die begin nie. Die gemeente het ten regte gewaak dat die leer suiwer verkondig word. Hulle het die valse leraars ontmasker en die leuenaars aan die kaak te stel. Waarheid en liefde is in Efese van mekaar geskei. Op die wyse het die gemeente haar eie bestaan ondergrawe, natuurlik met mooi bedoelings. Liefde sonder waarheid is niks anders as sentimentaliteit nie en waarheid sonder liefde, niks anders as brutaliteit nie. Aan hierdie gemeente word die opdrag gegee om te dink aan haar agteruitgang en haarself te bekeer en weer die eerste werke te doen. In die omkeer vir hierdie gemeente het drie sake vooropgestaan, naamlik: dink, bekeer en doen (kop, hart en hande).
3.4.3 Omkeerstrategie? Die drie B’s
Die omkeerstrategie van Efese sou beskryf kon word as ‘n strategie van die drie B’s, naamlik besinning, bekering en beoefening. In Openbaring 2:5 word die begrip bekering twee maal gebruik. metanoia is omdraai, ‘n nuwe manier van dink en dus ʼn manier om die verstaan van dinge te verander. Metanoia sou in hierdie sin van die woord ook ‘n oor-en voor begin kon wees. Daar waar hierdie nuwe kop funksioneer, volg ook ‘n nuwe manier van voel en doen en dink!! Metanoia is niks anders as die pad van navolging van Jesus Christus nie. Opmerklik dat die verandering van hart en die omdraai/omkeer van lewensweg so sterk in hierdie begrip beklemtoon word. Die Nederlandse teoloog, Bavinck (1984:45-46) skryf hieroor die volgende: Er was iets gestrengs, bijna iets hards in hun oog gekomen. Ze zagen aldoor de verzoeking, de dwaalleer op zich aansluipen, en ze stonden dag en nacht in het geweer. Maar ze kenden niet meer de momenten van zalige verrukking om de oneindige heerlijkheid van de genade God’s in Jezus Christus. Ze konden niet meer uitbarsten in blijde aanbidding van Hem…dat alles was in hun leven schaars geworden, veels te schaars.” Die werkwoordvorm van die opdrag tot bekering, naamlik die aoristus benadruk die feit dat ‘n keerpunt of omdraaipunt moes intree. Hierdie opdrag tot bekering is daarom nie net ‘n anders dink en voel oor kerkwees nie, maar ‘n omkering wat bekragtig word in die doen van die eerste werke van liefde. Reeder (2004:40) vat die opdrag in drie begrippe saam, naamlik kompensasie, restourasie en versoening. Dit kom daarop neer dat in die daad van bekering weer teruggegee word wat verskuldig is, dat dinge weer reggestel word soos dit hoort en dat die bande wat deur sonde aangetas is, weer hernuwe word.
3.4.4 Hermeneutiese lyne
In die omkeerstrategie van “om weer met die eerste dinge besig te wees” gaan dit om die volgende sake:
(1) Dit gaan oor die regte verstaan van die Goddelike Drie-eenheid (in Wese en in werking). Die regte verstaan van die algemene geloof waarsonder niemand sal salig word nie (Athanasius).
(2) Dit gaan oor die regte hantering van die Goddelike openbaring (Bybel) waarvan die missio Dei die skerppunt van die teologie moet wees.
(3) Dit gaan oor Openbaringsgeskiedenis waaruit die kerk van Jesus Christus iets moet leer oor God en die kerk se Goddelike roeping. Dit gaan nie maar net oor besig wees met ‘n sistematiese teologiese beoefening nie.
(4) Dit gaan oor kerk wees wat diensbaar is aan God se missio Dei en nie ʼn besig wees met onsself soos die volk Israel of die Judaiste, of ‘n kerkwees wat in eie kulturele oorlewing net terwille van hulleself verval nie. ‘n Kerkwees gefokus op diegene wat nog nie gehoor het nie; om gestuur te wees na die eindes van die aarde.
3.4.5 Afleidings
(1) Om “om te keer”, is ‘n saak van verbintenis. In die heel eerste plek is dit ʼn herverbintenis teenoor God en ook ‘n verbintenis teenoor lede van God se liggaam, sy kerk. (2) ‘n Omkeerstrategie begin primêr by besinning. Hierdie besinning handel dan noodwendig oor die praktyk van kerkwees en die gehoorsaamheid teenoor dit wat God as dankbaarheid van ons eis.
(3) ‘n Omkeerstrategie binne die GKSA sal noodwendig binne die praktyk van polarisasie die weg van bekering moet bewandel: by die leiers/voorgangers in die kerk, maar ook in die lewens van alle lidmate. Die toetsvraag sal moet wees of liefde vir God en liefde tot my naaste werklik nog so belangrik is.
(4) Dit gaan in die omkeerstrategie in die eerste plek nie om die soeke na blote getallegroei nie, maar om gehoorsaamheid aan God.
(5) Omkeer is nooit gelyk aan dit wat dikwels omdop genoem word nie. Omkeer is nie ‘n destruktiewe daad nie. Hoe kan die liefde ooit destruktief wees?
(6) Omkeerstrategie: Beoefen dit wat jy bely of in ander woorde gesê, word meer wat jy reeds is. ‘n Omkeerstrategie wat gedring en gedryf word deur liefde, moet noodwendig as magneet en trekpleister dien.
(7) Omkeer is om terug te keer na die basiese en die eerste dinge. Eerste dinge moet eerste gestel word. Dit is die wese van omkeer.
3.4.6 Aanbevelings vir goedkeuring deur die Sinode
3.4.6.1 In die lig van God se genade ‘n spesiale feesdag in die GKSA gereël word waarin ons as kerke God loof en ons langs die weg van verootmoediging opnuut verbind om ons as lewende en heilige offers aan God toe te wy (Rom 12:1). Op hierdie dag word ernstig gebid dat die Heilige Gees ons in die volle waarheid sal lei om God weer voor die oë van nie-Christene en Christene deur ons kerke se bediening van die evangelie te verheerlik in Suid-Afrika se stede, dorpe en townships. Alle ander kerke in die land word opgeroep om mee te doen. Saam met hierdie feesdag word ‘n Bybelstudie beskikbaar gestel wat in die loop van vyf dae (een dag vir vyf weke) gedoen kan word. ‘n Preekreeks gaan hiermee saam. Die Bybelstudie asook die preekreeks volg die breedweg die indeling van die Heidelbergse Kategismus en Die Dordtse Leerreëls, hf 5, parr 5–7 kan ook gebruik word.
3.4.6.2 Hierdie feesdag opgevolg word met streeksaamtrekke van predikante om saam te besin oor hoe leiding gegee word aan gemeentes oor die omkeerstrategie. Klassisse word aangemoedig om leiding in die verband te neem. Die Deputate verwys ook na Abraham Kuyper se boek: Tractaat van de Reformatie der Kerken (1883. Amsterdam: Hȏveker & Zoon) wat skryf: “Ook in ons eigen land getuigd de historie van meer dan een clasicale vergadering, waarop de gesamentlijke Dienaren de Woords hun eigen schuld en ontrouw voor God beleden, en saam voor zijn aangezicht beloften van verwakkering in eigen dienst en leven gedaan hebben. … Zelfs ontbreken ook onder de latere kerken de heerlijke voorbeelden niet, van een kerk die, op de boetprediking van haar herderen, in de schuld voor God gevallen, openlijk in het bedenhuijs, onder vasten en gebeden, opnieuw haar verbond van trouw met den Heere bezegeld heeft”.
3.4.6.3 Hierdie besinningsgeleentheid deur predikante opgevolg word met streeksbyeenkomste waar kerke saam kan besin oor die hantering van die omkeerstrategie deur gemeentes in die spesifieke streek.
3.4.6.4 Te benoeme Deputate kan saam met Korresponderende Kerkrade van Klassisse die organisering en inhoud van hierdie byeenkomste hanteer.
3.4.6.5 Klassisse aanbeveel word om op elke vergadering as staande agendapunt oor die missionale bediening in daardie streek te bid en te besin.
3.4.6.6 Die te benoeme Deputate in samewerking met die Administratiewe Buro ʼn “Omkeerplan” ontwikkel om die gemeentes wat finansieel swaarkry bv deur ramingsverligtings, hulp van abbagemeentes, ens, te help sodat kerke van die betrokke Klassis daardie betrokke kerk kan bystaan en toesien dat daardie gelde dan vir uitbou aangewend word.

5.1 Grafiese voorstelling
Die omkeerstrategie kan grafies so voorgestel word:
5.1.1 Kort verduideliking van grafiese voorstelling
Vlak 1: Verdiep in die Woord
Die strategie word gebou op die Woord van God as die fondament daarvan wat die Skrifbeginsels aandui en elke ander element se inhoud bepaal. (vgl 3.3 hierbo en Bylae 1 Eksegetiese lyne). Geen ware bekering, geloofsvernuwing en geloofsgroei kan sonder die Woord van God bedien word nie. Om groei te bewerkstelling moet daar verdieping in die Skrif plaasvind (Ps 1) veral in die lig van die noodsaak om opnuut die opbou van die kerk so te bedien dat die uitbou-aspek sy regmatige plek in die lewe van die kerk verkry (dit wat nou grootliks ontbreek).
Vlak 2 : Vier kern groei-elemente
Gebou op die fondament van die Woord word vier kern groei-aspekte aangewys wat geloofsgroei en kerkgroei in die hand werk. Die verskillende aspekte word as werkwoorde aangegee om daarmee aan te dui dat niks in die GKSA sal verander as elke lidmaat, kerkraad en gemeente nie skouer aan die wiel sit om in gehoorsaamheid aan God die opdrag uit te voer tot groei van ons kerke nie.
Die eerste kernelement is “Bid” = die opdrag om volhardend te bid. Naas die bediening van die Woord is gebed is een van die belangrikste opdragte wat die Here aan sy kerk gee. HK, Sondag 45 stel dit duidelik: “Dit is die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis en omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarvoor bid en dank”. Die vraag is in hoe ‘n mate is die GKSA ‘n kerkverband wat God met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en dank? Gebed as kernelement van elke gemeentelike bediening sal opnuut aan die hand van die Skrif bedien moet word. Hierdie gebid is dan in die konteks van die omkeerstrategie veral gerig op wat in Sondag 48 ter sprake kom onder die bede “Laat u koninkryk kom”. “Bewaar U kerk en laat dit groei” moet die gebed op die lippe van elke lidmaat, predikant, ampsdraer en gemeente wees. Uit die boek Handelinge blyk dit ook baie duidelik watter kardinale rol gebed speel in die opbou en uitbou van die eerste gemeente. Kyk Bylae 2 oor die belang van gebed uit die Skrif.
Die tweede kernelement is “Groei” = tweërlei groei: die geloofsgroei van elke lidmaat en die groei in getalle van die gemeente. Uit Skrifgedeeltes soos onder andere Efesiërs 4, Hebreërs 5 en 6 en 2 Petrus 1 blyk duidelik dat die fokus op geloofsgroei van lidmate baie sterk in die bediening in die gemeente aandag moet geniet. Die persoonlike geloofgroei van lidmate lei tot die opbou van die gemeente, maar kweek ook geloofsvolwasse lidmate wat daders van die Woord word en die evangelie aktief leef en uitdra. Getallegroei van die gemeente moet ook sterk in die bediening van die gemeente aandag geniet deur aktiewe evangeliseringswerk plaaslik onder alle gemeenskappe en die ondersteuning van sendingwerk in ander wêrelddele. Die onmiddellike nood van die omgewing maar ook die nood van mense wat nog nooit van die Evangelie gehoor het nie, moet altyd saam bedien word en nie teenoormekaar gestel word nie. Lidmate moet ook toegerus word om in die nuwe konteks van ons land hulle eie lewensruimte (familie, vriende, sosiale lewe, werk, ens) as evangelisasieterrein te sien en te gebruik. Kerkgroeimodelle soos kerkplanting, samewerking met bestaande gemeentes in potensiële groei-areas, samewerking met sendingorganisasies, ondersteuning van sendinggemeentes, sendeling ens, is alles geleenthede waar ʼn gemeente kan meewerk aan die groei van die kerk. Kyk Bylae 3 oor die Bybelse beginsels ten opsigte van geloofgroei.
Die derde kernelement is “Lei op” = die opleiding van alle ampsdraers en lidmate. Hierdie opleiding is baie breër as net die fokus van die omkeerstrategie maar sluit dit ook in. In sekere sin sou hierdie derde kernelement die tweede element kon dien, maar hierdie opleiding is veel meer as net opleiding tot geloofsgroei. Hier gaan dit om die herevaluering van elke ampsdraer se taak en rol en hoe dit in die gemeentelike bediening toegepas word, asook die ontplooiing van lidmate se gawes om die amp van gelowige weer sy regmatige plek in die kerk te gee en die hele gemeente te lei om werklik ‘n evangeliserende gemeente te wees.
Die vierde kernelement is “Rig in” = hier gaan dit om die praktiese inrigting van die verskillende bedieninge in die gemeente om die omkeerstrategie te dien. Navorsing toon dat struktuur op visie volg en nie anders om nie. Met ander woorde: struktuur vorm nie visie nie. Dit beteken dat die bedieningstrukture van ‘n gemeente ook ingerig moet word volgens die bedieningsplan wat die gemeente volg. As die bedieningsplan dan gerig word op die groei van die kerk dan met die strukture waarbinne hierdie bediening plaasvind ook daarvolgens ingerig word. Elke gemeente sal hieraan op eie wyse uitvoering gee. Kyk Bylae 4 waarin praktiese wenke gegee word wat Kerkrade kan stimuleer om oor eie situasie te dink en te handel.
Vlak 3: Die Missio Dei as pylpunt van die strategie
Die fokuspunt van die omkeerstrategie is gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here die gemeente so op te bou dat die kerk ook uitgebou word. Die Missio Dei speel dus ‘n belangrike en sentrale rol in die verdieping van die Woord en die toepassing van die kerngroei-elemente soos reeds hierbo in die Rapport uiteengesit is. Indien die GKSA werklike gesonde kerkgroei wil bevorder kan en mag hierdie aspek nie uit die oog verloor word nie. Die Deputate bevestig weer dat die opdrag tot die uitbou van die kerk nie van die opbou van die kerk losgemaak kan word asof dit die enigste bestaanreg van die kerk is nie, maar sonder hierdie element is die GKSA ook nie ware kerk nie. Aangesien dit die Deputate se oordeel is dat dit die kerngebrek in die GKSA is, vorm die Missio Dei die skerppunt van die strategie.
5.2 Praktiese voorstelle vir die praktiese uitvoering van elke kernelement
5.2.1 Verdieping in die Woord
Die Deputate is van oortuig dat hierdie verdieping eerstens moet plaasvind in die harte en bedieninge van die bedienaars van die Woord. Iets wat duidelik geword het vanuit die Deputate se ondersoeke na ander omkeer inisiatiewe is die sentrale belang van die predikante en die prediking in hierdie inisiatiewe. Wanneer die predikant nie die leiding in die gemeente neem in so ʼn terugkeer-/herstelproses nie is dit gewoonlik van die begin af bestem tot ondergang.
Tweedens, is die werk van die predikant as sodanig die aktiwiteit waarby ʼn gemeente se groei staan of val, aangesien hy geroep is om die stem van Christus te laat hoor. Die Deputate is daarvan oortuig dat geen poging waarin ‘n gemeente wil groei in hul geloof en kerk-wees na binne en buite kan slaag indien die predikant van die gemeente nie self groei in die gehoorsaming van sy roeping en die leiding neem in so ‘n betrokke inisiatief nie. Hierdie tendens hang eerstens saam met die aard van die kerk.
5.2.1.1 Die Woord van Christus kernbelangrik vir enige omkeerinisiatief
(1) Die kerk is in haar wese en welwese volledig afhanklik en gebind aan Christus, haar Hoof (Ef 4:15, 16; Kol 2:19).
(2) Christus vergader, beskerm en onderhou sy kerk deur sy Woord en Gees (Sondag 21).
(3) Die kerk kan dus net ware kerk wees wanneer hulle die stem van die Goeie Herder ken en gehoorsaam (Joh 10).
(4) Dis vir bg redes dat ons bely dat die suiwere bediening van die Woord, Sakramente en bediening van die tug merktekens van die ware kerk is (NGB, 29). Die kerk kan net ware kerk wees wanneer sy die stem van die Goeie Herder hoor (suiwere Woordbediening), daarin versterk word (suiwere Sakramentsbediening) en dit gehoorsaam (toepassing van kerklike tug).
(5) Enige vorm van terugkeer/bekeer/omkeer in die kerk is daarom volledig afhanklik van die suiwere (Geesvervulde) verkondiging van die Woord.
(6) Die kerk kan net groei en herstel wanneer die stem van Christus gehoor word, die gemeente daarin versterk word en die gemeente daaraan gehoorsaam is. Immers, die totale bestaan, voortbestaan en groei is afhanklik daarvan dat Christus se Woord gehoor en gehoorsaam word.
5.2.1.2 Die bedienaar van Christus se Woord is kernbelangrik vir enige omkeerinisiatief
(1) Om sy stem te laat hoor roep Christus bedienaars om sy Woord te verkondig. Hierdie roeping word dien ooreenkomstig in die Bevestigingsformulier vir Woordbedienaars saamgevat as die verkondiging van die Woord, bediening van Sakramente, die diens van gebede en om te help met die regering van die kerk.
(2) Die Bevestigingsformulier vir predikante brei die ampswerk van die predikant in ses hoofpunte uit waarin dit gaan om die opbou en uitbou van die gemeente nl: Woordverkondiging, Sakramentsbediening, die gebede, onderrig van verbondskinders, regering saam met die ouderlinge en evangelisasie. Vanuit die Formulier blyk dit duidelik dat die predikant se hele roeping gewy moet word aan die biddende bestudering van die Woord, om die gemeente dan biddend te lei met die Woord en om die gemeente toe te rus sodat die Woord uitgedra kan word na ‘n verlore wêreld.
(3) Gevolglik behoort die predikant van ‘n gemeente wat geroep is as voorganger in bg sake die leiding te neem in so ‘n omkeer/terugkeer/bekering na God se Woord.
5.2.1.3 Die bedienaar van die Woord se geloofsgroei is kernbelangrik vir enige omkeerinisiatief
(1) Die predikant se persoonlike geloofsgroei, geestelike ontwikkeling en toename in kennis van die Woord vorm die grondslag vir sy werk wat hy as Woordbedienaar doen. Die Bevestigingsformulier sê dat die Woord grondig ondersoek moet word deur die predikant. Die predikant moet self voortdurend groei in die geloof om die Woord te kan verkondig.
(2) Paulus skryf aan Timoteus (1 Tim 4:15) dat hy hom moet toelê (meer letterlik: bedink hierdie dinge) op hierdie dinge sodat sy vordering/ontwikkeling/ vooruitgang vir almal duidelik kan wees.
(3) Die dinge waarop Timoteus hom moet toelê is veral saamgevat in 1 Tim 4:12-14. Hy moet ‘n voorbeeld wees in woord, gedrag, liefde, betroubaarheid en reinheid. Hy moet hom toelê op voorlesing, bemoediging en onderrig.
(4) Dit waarop Timoteus hom dus moet toelê kan alles saamgevat word in die bestudering, verkondiging en gehoorsaming van die Woord.
(5) Wanneer Timoteus dit doen moet daar by hom vordering wees, sodat die gemeente dit kan sien. Hy moet dus groei en toeneem in sy werk as bedienaar van die Woord, sodat dit vir die gemeente duidelik en sigbaar kan wees.
(6) Waarom moet sy vooruitgang duidelik wees? Sodat die gemeente hom kan navolg.
(7) Wanneer die predikant nie groei nie kan hy die gemeente ook nie met die Woord begelei om te groei nie.
(8) In bg stelling lê een van die belangrikste beginsels vir die groei en ontwikkeling van ‘n gemeente. Wanneer predikante hulle nie genoegsaam op die Woord toelê nie kan hulle die gemeente nie begelei tot geestelike volwassenheid nie.
(9) Die geestelike vooruitgang van ‘n gemeente is dus nooit in wese afhanklik van organisasie, administrasie, beplanning en strategieë nie, maar is direk afhanklik van die geestelike voeding wat hulle ontvang. Hierin staan die roepingswerk van die predikant sentraal en moet hy die leiding neem.
5.2.1.4 Die inrigting van die bedienaar van die Woord se werk en se werksprogram is kernbelangrik vir enige omkeerinisiatief
(1) Aanduidings is dat ‘n baie groot gedeelte van ‘n predikant se tyd gespandeer word aan bestuur en administrasie. Stewart beweer dat soveel as 46% van predikante se tyd kan aan bestuur en administrasie bestee word. (Stewart. K, 2009, Keeping your pastor: an emerging challange. In: Journal for the Liberal Arts and Sciences 13(3)).
(2) Predikante en Kerkrade sal dit moet uitmaak of hulle die predikant gaan heroplei om hierdie bestuursuitdaging die hoof te bied of eerder die Skriftuurlike pad gaan loop om die predikant se werk en sy tyd te herfokus weg van bestuur en organisasie.
(3) Soos reeds genoem: dit waarmee die predikant hom moet besig hou in sy roepingswerk is in hoofsaak saamgevat in die Bevestigingsformulier. Dit beteken dat predikante ten diepste weer moet terugkeer na dit wat hulle voor die Here beloof het om in sy kerk te doen. Dit waartoe predikante hulle verbind het aan die begin van hulle bediening behoort die maatstaf te word waaraan ʼn predikant sy tydsbesteding meet.
(4) Predikante moet in die lig van die Woord en hulle beloftes aan God en sy gemeente goed op hulself en op die leer let (1 Tim 4:16). Predikante word dus deur die Skrif opgeroep tot ernstige herbesinning en grondige selfondersoek of hulle werklik gehoorsaam is aan die Here se opdragte aan hulle.
(5) Dit is dus van belang dat predikante moet herfokus om besig te wees met die diens van Woordbediening en die gebede. Trouens, dit was ook die klem van die Apostels se werk gewees volgens Hand 6:4: “ons sal volhard in die gebed en die bediening van die Woord”.
(6) Kerkrade en predikante sal in hulle beplanning deeglik moet kennis neem van die aard van die predikant se roeping en sorg dra dat die predikant se werkweek die nakoming hierdie opdragte weerspieël.
(7) Kerkrade sal hulle predikante behulpsaam moet wees om te herfokus op die kern van hulle bedieningswerk deur die gemeente saam met die predikant toe te rus.
(8) In die lig van bg is die deurlopende toerusting van predikante belangrik.
(9) Daarmee saam sal die Kerkraad en gemeente se verwagtinge van die predikante ook herfokus moet word. Die predikant se werk moet dus nie minder word nie, maar moet ten diepste fokus op Skrifstudie en woordbediening.
(10) Die Kerkraad moet toesien dat die predikant die gemeente toerus volgens hulle gawes sodat hulle hul dienswerk kan doen en die predikant kan fokus op sy primêre verantwoordelikhede.
(11) Predikante moet genoegsame tyd per jaar ontvang vir verdieping in die Woord aan die een kant as ook verlof aan die ander kant.
5.2.1.5 Predikante se geestelike gesondheid is kernbelangrik vir enige omkeerinisiatief
Die Christian Reformed Church in North America het al sedert 1987 vyf deeglike navorsingsprojekte geloods om veral die geestelike welstand van gemeentes te bepaal en een in 2004 en een in 2007 om die geestelike welstand van predikante te bepaal. Die bronne kan van die CRCNA se webblad afgelaai word. Alhoewel daar sekerlik verskille tussen predikante van CRCNA en die GKSA is sal daar sekerlik ook ooreenkomste wees. Die tendense kan in baie gevalle aanduiders wees van soortgelyke uitdagings waarmee predikante in die GKSA te make het. Vanuit die mees onlangse navorsing wat in 2007 gedoen is onder die predikante van die CRCNA en onder die gemeentes in 2012 het die volgende tendense na vore gekom rakende die predikant se geestelike welsyn:
(1) Daar is by baie ‘n tekort aan persoonlike Skrifstudie.
(2) Daar is by baie ‘n tekort aan persoonlike gebed.
(3) Daar is ‘n oorlading wat die bestuur en organisasie van die gemeente betref.
(4) Dikwels is predikante en gemeentelede se verwagting van die predikant eerder gefokus op bestuur as om geestelike leiding te neem.
(5) Predikante fokus nie naastenby genoeg op die kern van hulle bedieningsopdragte nie.
(6) Daar is dikwels tye wat die predikant gespanne en oorwerk is. Dit impakteer natuurlik negatief op die Woordbediening.
(7) Predikante het dikwels met konflik te make in die bediening.
(8) Predikante sukkel oor die algemeen om ‘n gebalanseerde bestaan te voer waarin werkstyd, ontspanning, oefening en ‘n gesonde leefstyl goed saamval.
5.2.1.6 Aanbevelings
Die opleiding van predikante aan die TSP word in Rapport 2 hanteer en daarom beveel ons hier aan dat ‘n toerustingshandleiding vir predikante en Kerkrade geskryf word deur die te benoeme Deputate wat:
5.2.1.6.1 Deeglike navorsing doen oor die stand van sake onder predikante van die GKSA.
5.2.1.6.2 Daarop klem lê hoe predikante se werk herfokus kan word op wat hulle oorspronklik belowe het met hulle bevestiging. Die Bevestigingsformulier bied ʼn baie goeie vertrekpunt.
5.2.1.6.3 Predikante veral toerus om opnuut weer in hulle werk volledig te konsentreer op Woordbediening in al sy gestaltes.
5.2.1.6.4 Predikante toerus om baie meer te bid en ook voorgangers in die gebed te wees.
5.2.1.6.5 Predikante toerus om geestelike leiers (Heb 13:5) vir die gemeente te wees en nie gemeentelike bestuurders nie.
5.2.1.6.6 Klem lê op die belang van predikante se persoonlike geestelike groei.
5.2.1.6.7 Predikante se geestelike groei te verbind aan die gemeente se geestelike groei.
5.2.1.6.8 Predikante toerus om ‘n gebalanseerde lewe te lei te midde van die bedieningsdruk.
5.2.1.6.9 Kerkrade toerus om ‘n herevaluering van die predikant se werk te doen en weer in lyn te kry met Skrif, Belydenis, Kerkorde en die Bevestigingsformulier vir predikante.
5.2.1.6.10 Gemeentelede toerus sodat hulle verwagtinge van predikante weer in lyn met die Skrif kan kom.
5.2.1.7 Met die fokus op verdieping in die Woord as fondament van die strategie is die volgende sake van belang:
5.2.1.7.1 Predikante moet opnuut die Woord bestudeer in die lig van die Missio Dei en hoe die opbou van die gemeente met die Woord gedoen moet word om die groei van die gemeente te stimuleer. Die eksegetiese lyne en afleidings wat in Bylae 1 gegee word, dien as voorbeeld van so ‘n studie wat dan met vrug dmv van die verskillende bedieningstrukture soos prediking, Bybelstudie, kleingroepbediening, kategese, ampsdraer opleiding en huisbesoek in die gemeente bedien kan word en tot groei van die lidmate kan dien. Kerkrade moet seker maak dat predikante genoeg tyd aan die studie van die Woord spandeer met die oog op eie toerusting.
5.2.1.7.2 Die ter saaklike punte van die leer, soos uitgewys in 3 van hierdie Rapport en vorige Sinoderapport, moet in die prediking aangespreek word, sodat lidmate se denke hieroor kan vernuwe, bekering kan plaasvind en lidmate met die korrekte Bybelse visie op kerk en geloof ‘n bydrae kan maak tot die instandhouding van gesonde gemeentes wat kan groei.
5.2.1.7.3 Kerkrade moet toesien dat die predikant voldoende en gebalanseerde aandag skenk aan die bediening van die Woord met betrekking tot die opbou en die uitbou van die gemeente.
5.2.1.7.4 Die Skrifbeginsels wat ten grondslag lê van die 4 kernelemente van kerkgroei moet bestudeer en in die gemeente bedien word.
5.2.1.7.5 Kerkrade moet aan die hand van bogenoemde ‘n bedieningsplan uitwerk aan die hand waarvan die predikant, ampsdraers en lidmate op ‘n beplande wyse uitvoering kan gee aan die omkeerstrategie.
5.2.2 Gebed
Die volgende sake is van belang:
5.2.2.1 Die gebedsbediening van die predikant moet verdiep ooreenkomstig sy Bevestigingsformulier en beroepsbrief. Kerkrade moet toesien dat die predikant op geordende en volhardende wyse aandag gee aan sy persoonlike gebedslewe asook sy voorbidding vir die gemeente.
5.2.2.2 Ampsdraers en lidmate moet toegerus word tot verdieping van hulle persoonlike gebedslewe en met betrekking tot voorbidding in die gemeentelike bedieninge.
5.2.2.3 Bogenoemde toerusting kan fokus op die betekenis en praktyk van persoonlike gebede, erediensgebede, openbare gebede, gesamentlike gebede (waar meer as een voorgaan in gebed tydens dieselfde geleentheid) en voorbidding vir spesifieke behoeftes wat in die gemeente geïdentifiseer word.
5.2.2.4 Studie kan gedoen word en toerusting gegee word in verband met die belang, betekenis en praktyk van die opdrag om volhardend te bid vir die vervulling van die Heilige Gees en om altyd te bid in die krag van die Gees. (Judas, vers 20, Lukas 11: 13, Matteus 6 en 7).
5.2.2.5 Daar moet gewaak word teen formalisme in gebede wat op verskillende wyses in die kerkverband voorkom. So bv word gebed – sekerlik nie doelbewus nie – gebruik om vergaderings of byeenkomste te “open” en “af te sluit” en per implikasie word die gebed as net as ‘n funksie te verrig om iets te begin en eindig en nie gebruik word om bewustelik in die teenwoordigheid van die Here te tree met gebed en om die ter saaklike voorbidding vir die geleentheid of saak te doen nie.
5.2.2.6 Kerkrade moet lidmate toerus om elke geleentheid te gebruik om vir die gemeente en spesifiek vir kerkgroei voorbidding te doen. Huisgodsdiens, Bybelstudies, kleingroepbyeenkomste, wyksbyeenkomste, vergaderings en eredienste moet werklik as gebedsgeleenthede benut word om vir die bediening in die gemeente te bid. So bv kan ‘n gemeentelike gebedskalender die gemeente help om in ‘n maand saam te fokus in hulle gebede op sekere sake in die gemeentelike bediening. Lidmate se gawes kan ook hier gebruik word tot opbou van die gemeente deur bv ampsdraers en lidmate van tyd tot tyd geleentheid te gee om in eredienste voorbidding te doen.
5.2.3 Groei
Die volgende kernsake moet aandag geniet om hierdie deel van die strategie in gemeentelike bediening toe te pas.
5.2.3.1 Kerkrade moet die Skrifbeginsel aanvaar dat die bediening deur predikante, ouderlinge en diakens nie maar net die geestelike lewe van lidmate in stand moet hou nie. Die doel van elke ampsdraer se dienswerk en die doelwit van bedieninge in die gemeente moet duidelik gerig wees op die geloofsgroei van lidmate (Ef 4). Vergelyk ook Bylae 3.
5.2.3.2 Ouderlinge kan begin deur ‘n Skrifstudie te doen oor die hele kwessie van geloofsgroei en geloofsvolwassenheid soos dit in die Skrif voorkom en besluit hoe die dienswerk van ampsdraers en die verskillende bedieningswyses in die gemeente in die praktyk geloofsgroei optimaal kan fasiliteer. Kyk Bylae 3 vir praktiese voorstelle in die verband. Die bedieningswyses in die gemeente moet dan aangepas word om die geloofsgroei tot volwassenheid van elke lidmaat te dien.
5.2.3.3 Kerkrade moet eerlik in die lig van 5.2.1.1 hierbo selfondersoek doen in watter mate die gemeente betrokke is by evangelisering na buite en ernstig besin oor hoe die gemeente toegerus en begelei gaan word om betrokke te raak in die gemeenskap waar die Here die gemeente geplaas het asook by sendingwerk op ander plekke. Eers wanneer die Kerkraad en gemeente oortuig is van die roeping van die Here in die verband, sal innerlike en uiterlike weerstande om by die uitdra van die evangelie betrokke te raak, oorkom word. Na deeglike besinning, gebed en ontleding van die nood in die gemeenskap en die wêreld, sal die Here self geleenthede uitwys waar lidmate indiwidueel en die gemeente as geheel die Evangelie met Woord en daad kan uitdra.
5.2.3.4 Kerkrade moet toesien dat die predikant en die ouderlinge, volgens hulle Bevestigingsformuliere, die voorbeeld stel in betrokkenheid by die uitdra van die evangelie in toerusting van lidmate en die praktyk van evangelisering. Die uitdra van die evangelie bied vir alle lidmate geleentheid om volgens hulle gawes betrokke te raak.
5.2.4 Oplei
Die volgende sake is van kernbelang:
5.2.4.1 Die opleiding van predikante om gemeentes toe te rus en te begelei om gesonde kerkgroei te bedien is van uiterste belang. Kyk ook hier Rapport Deputate Omkeerstrategie [26.2] wat handel oor die opleiding van predikante.
5.2.4.2 Verdere bedieningstoerusting met die ook op die bediening van kerkgroei vir predikante wat reeds in die bediening is, is van kardinale belang. Kyk ook hier die aanbevelings van Rapport Deputate Omkeerstrategie insake voortgesette bedieningstoerusting [26.2]
5.2.4.3 Kerkrade word aangemoedig om die verdere toerusting van predikante aan te moedig en predikante finansieel by te staan om sodanige toerusting te ontvang.
5.2.4.4 Predikante hulle rol as toerusters van die gemeente ernstig opneem en hulle bediening so inrig dat ampsdraers en lidmate doelgerig en planmatig opgelei word om hulle rol en bediening reg te verstaan en so toe te pas dat gesonde kerkgroei kan plaasvind.
5.2.5 Inrig
Elke gemeente se omstandighede is uniek en die beginsels van gesonde kerkgroeibediening sal prakties in elke gemeente anders lyk. Daarom wil die Deputate nie hier verval in voorskrifte vir die inrigting van die gemeentelike bediening om kerkgroeibediening te kan fasiliteer nie. Die Deputate wil egter Kerkrade ernstig aanspoor om te besef dat indien gemeentes erns wil maak met die bediening van kerkgroei, bestaande bedieningstrukture getoets en aangepas sal moet word en bes moontlik nuwe bedieningstrukture in plek gesit word om hierdie doel te bereik. Om Kerkrade te help om hieroor na te dink verwys ons na Bylae 4 waarin die Deputate saam besin het oor kritiese elemente met betrekking tot die inrig van die bediening om die omkeerstrategie toe te pas en praktiese voorbeelde gegee het van hoe die bediening in die gemeente ingerig kan word om die doel te bereik.

6. Finale aanbevelings
6.1 Dat die voorgestelde strategie goedgekeur word en dat Kerkrade aangemoedig word om die strategie en die beginsels daaragter te bestudeer en volgens eie omstandighede toe te pas. (Kyk ook aanbevelings by 3.4.6 wat hiermee saam gelees moet word.)
6.2 Die te benoeme Deputate die opdrag ontvang om die beslu it van die Sinode skriftelikaan elke gemeente deur te gee en toe te sien dat elke gemeente die CD met studiemateriaal ontvang.
6.3 Die naam van die Deputate vir die Omkeerstrategie verander word na Deputate vir Kerkgroeibediening.
6.4 Daar weer Deputate vir Kerkgroeibediening (indien die naam goedgekeur word) aangewys word met die volgende opdrag:
6.4.1 Om die proses van die vestiging van die SBTB in samewerking met die Kuratore na te ondersoek, te beplan en in werking te stel. (Kyk Rapport Deputate Omkeerstrategie 26.2.)
6.4.2 Om intussen – totdat die sentrum gevestig is en ‘n koördineerder aangestel is – gemeentes en Klassisse op versoek met die implementering van die kerkgroeibediening by te staan, toerustingsmateriaal en opleiding waar nodig, te verskaf.
6.4.3 Om spesifiek te fokus op die behoeftes van die swart kerke met betrekking tot die toepassing van die kerkgroeibediening.
6.4.4 Om spesifiek op die toerusting van predikante te fokus en predikante deur middel van streeksaamtrekke, konferensies en ander toepaslike wyses saam te trek en toe te rus met betrekking tot die implementering van die kerkgroeibediening.
6.4.5 Om in samewerking met die SBTB en in die lig van nuwe navorsing wat aan die lig mag kom, verdere verdieping van die kerkgroeibediening te ondersoek, volgende vlakke van implementering voor te stel en die Sinode daaroor te adviseer.
6.4.6 Om ‘n aktiewe webblad vir kerkgroeibediening te skep waar gemeentes op hoogte gehou word van toerustingsmateriaal, opleidingsgeleenthede en ander ter saaklike inligting wat gemeentes kan stimuleer en help met die kerkgroeibediening.
2. Uitvoering
Die Deputate rapporteer oor bogenoemde opdragte 1.1–1.3 soos volg:
2.1 Opdrag
2.2 Sake waarvan die Sinode kennis neem
2.2.1 Die Sinodes van die GKSA poog reeds jare lank om toerusting vir kerke te laat aanbied wat kan lei tot reformasie en gesonde groei in kerke. By die Sinode van 2009 (Acta 2009:451, 452) is besluit:
2.2.1.1 Dat kerke en leraars opgeroep word om groot erns met die opleiding en toerusting van ouderlinge te maak.
2.2.1.2 Dat die TSP duidelike leiding aan voornemende predikante gee oor die aard, inhoud en standaard van ouderlinge toerusting.
2.2.1.3 Dat kerke dit oorweeg om in gemeente- of Klassis- of Streeksinodeverband op ʼn voortdurende basis kursusse vir ouderlinge aan te bied en so te sorg vir deurlopende opleiding en toerusting.
2.2.1.4 Dat hierdie kursusse o.a. die volgende insluit:
2.2.1.4.1 Onderrig in basiese, tersaaklike fasette van hermeneutiek, eksegese en
openbaringsgeskiedenis.
2.2.1.4.2 Onderrig in die leer van die kerk, met toespitsing op die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke.
2.2.1.4.3 Beginsels en praktyk van Gereformeerde Kerkregering.
2.2.1.4.4 Beginsels en praktyk van pastorale bediening.
2.2.1.4.5 Beginsels en praktyk van Missiologie en Apologetiek.
2.2.1.5 Deputate is aangewys om:
2.2.1.5.1 die werk in die besluite vervat tot uitvoering te bring
2.2.1.5.2 kerke behulpsaam te wees deur:
2.2.1.5.3 toerustingskursusse op te stel
2.2.1.5.4 alternatiewe kurrikula en leesmateriaal beskikbaar te stel vir verdere akademiese opleiding van ouderlinge (diverse, spesifieke en gespesialiseerde bedieningswerk).
2.2.2 By die Sinode van 2012 is die hele opdrag opgeneem in die opdrag van die “Deputate vir Omkeerstrategie” om in hierdie behoefte te voorsien.
2.2.3 Die Fakulteit Teologie het reeds oor ‘n tydperk heen gepoog om voortgesette teologiese toerustings kursusse aan te bied, maar dit was sporadies en iets van ʼn permanente struktuur wat daarop fokus kon nog nie tot stand kom nie, hoofsaaklik as gevolg van ‘n gebrek aan kapasiteit en spesifieke fondse wat daarvoor bestem is.
2.2.4 Die Omkeerstrategie Deputate het met die Senaat van die Teologiese Skool gesprek gevoer oor die kurrikulum van predikantsopleiding sowel as die aanbied van voortgesette bedieningstoerusting.
2.2.5 Dis duidelik dat daar ‘n sterk behoefte is dat predikante en ouderlinge toerusting gekoördineerd moet plaasvind om plaaslike gemeentes te help om hulle eie verantwoordelikheid na te kom. Deputate gee leiding en verskaf materiaal sodat Kerkrade self kan groei. Predikante en Kerkrade moet saam ‘n kultuur skep van voortdurende onderlinge toerusting.
2.2.6 Die beginsel ten grondslag van voortgesette bedieningstoerusting is die Skrifmodel van Efesiërs 4:11-16 en Handelinge 6, naamlik dat die besondere dienste toerustingsgawes is om die gelowiges toe te rus en te lei om in die amp van die gelowige (HK, So 12) hulle dienswerk in die opbou van die liggaam van Christus te vervul, en die plaaslike kerk as liggaam van Christus homself sal opbou in liefde.
2.2.7 Hierdie verdere voortgesette bedieningstoerusting vir predikante en lidmate moet veral fokus op die omkeerstrategie. Indien predikante en Kerkrade nie hierin leiding neem in plaaslike kerke nie, sal die omkeerstrategie nie grond vat nie. (Uit die beantwoording van ‘n vraelys sowel as besprekings by Streeks- en Klassis konferensies en predikantesamekomste het heelwat predikante en Kerkraadslede laat blyk dat hulle ‘n groot behoefte het aan voortgesette bedieningstoerusting. Dit bevestig die bevindings van die Rapport van die Deputate oor bewaring en vermeerdering van die kerk van die Sinodevergadering in 2009.)
2.2.8 Uit die beraadslagings tussen die TSP en die Fakulteit Teologie en die Omkeerstrategie Deputate het die oortuiging uitgekristaliseer om hande te vat om ʼn struktuur te skep wat in hierdie behoeftes kan voorsien om allerlei formele en semiformele kursusse oor kerkrevitalisering en gemeente-opbou vir Gereformeerde en ander kerke aan te bied en te laat aanbied om kerke te help om meer gesonde evangeliserende en missionale kerke te word. Die idee is dat die universiteit sulke kursusse formeel sal akkrediteer sodat mense wat daarin belangstel, daarvoor krediete kan verwerf wat na die bywoning van ‘n aantal kursusse kan lei tot die verkryging van ‘n formele nagraadse diploma of graad. (Die Deputate het byvoorbeeld kennis geneem van 18 maandelange kursusse wat deur moderne afstandsonderrig metodes in kerkplanting en kerk revitalisering deur die IPB in Brasilië deur hulle Jumper Graduate School of Theology aangebied word wat toegang kan gee tot ‘n meestersgraad en selfs eventueel ‘n doktorsgraad in Praktiese Teologie of Missiologie.)
2.2.9 Die Deputate het ook met die bestuur van Docenda1 samesprekings gevoer met die oog op samewerking en gebruik van hulle fasiliteite vir die aanbieding van kortkursusse met die oog op voorgesette bedieningstoerusting. Die moontlikheid van finansiering deur Docenda met die oog op voortgesette bedieningstoerusting sal verder ondersoek moet word.
2.3 Sake waaroor die Sinode besluit
2.3.1 Aanbevelings
2.3.1.1 ‘n Sentrum vir Bedieningstoerusting en Begeleiding (SBTB) onder toesig van die Kuratore en in samewerking met die Fakulteit Teologie gevestig word.
2.3.1.2 ‘n Persoon, in samewerking met die TSP en Fakulteit Teologie, aangestel word om as koördineerder (Direkteur) van die sentrum op te tree.
2.3.1.3 Die opdrag aan die sentrum en die taakomskrywing van die koördineerder deur die Kuratore in samewerking met die TSP, die Deputate Omkeerstrategie en Fakulteit Teologie vasgestel word en kan die volgende behels:
2.3.1.3.1 Die skryf van ter saaklike kort kurssuse wat nodig is vir die bedieningstoerusting en begeleiding in die lig van die opdrag van hierdie Rapport.
2.3.1.3.2 Die nagaan en beskikbaarstelling van reeds bestaande kort kursusse.
2.3.1.3.3 Die werf van skrywers en kundiges plaaslik en oorsee vir die ontwikkeling van kursusse om te verseker dat voortgesette bedieningstoerusting en relevante opleiding vir predikante en lidmate beskikbaar is.
2.3.1.3.4 Die fasilitering van toerusting vir predikante, ampsdraers en lidmate.
2.3.1.3.5 Die opleiding van predikante om in streke sulke kursusse te fasiliteer en aan te bied.
2.3.1.3.6 Relevante kortkursusse van die Fakulteit Teologie en TSP onder lidmate bemark word.
2.3.1.3.7 Relevante kursusse van Mukhanyo Teologiese Kollege wat deur middel van afstandsonderrig plaasvind, onder lidmate bemark word.
2.3.1.3.8 Samewerking met Docenda verder ondersoek word.
1 Docenda is ‘n maatskappy sonder winsbejag wat deur die inisiatief van die GKSA se Kuratore gestig is. Die maatskappy stel hom ten doel om dit moontlik te maak dat studente wat nie na Potchefstroom kan kom nie, by Oopleersentra dwars oor Suid-Afrika en Namibië wel via moderne tegnologie as teologiese studente van die NWU se Fakulteit Teologie kan studeer. Gemeentes van die GKSA word by hierdie inisiatief betrek deurdat die gemeentes hulle fasiliteite as Oopleersentra laat gebruik en fasiliteerders vir lesings beskikbaar stel. Die doel is ook dat gemeentes betrokke raak by die studente (meestal lekepredikers) en die kerke en gemeenskappe waaruit hulle kom. Docenda is ver gevorder met ‘n befondsingsmodel wat dit moontlik sal maak dat die betrokkenheid van die gemeentes nie enige finansiële las op die gemeentes plaas nie, maar alleen aan die gemeente praktiese geleenthede bied tot die uitdra van die evangelie.
2.3.1.4 Soos relevante kursusse dmv die witbord en ander afstandsonderrig tegnologie deur die Fakulteit Teologie (so ver moontlik) en die TSP daargestel word, dit onder lidmate bemark word.
2.3.1.5 Predikante en ouderlinge toerusting gekoördineerd plaasvind om plaaslike gemeentes te help om hulle eie verantwoordelikheid na te kom. Die SBTB en Deputate gee leiding en verskaf materiaal sodat die Kerkraad self kan groei. Predikante en Kerkrade moet saam ‘n kultuur skep van onderlinge toerusting.
2.3.1.6 ‘n Spesifieke webtuiste ontwerp word waar toerustingsmateriaal in sagteware vorm geplaas kan word vir kerke om maklik af te laai en te gebruik, waar allerlei toerustingsmateriaal wat elders ontwerp is krities bespreek kan word en waar lesings en preke wat relevant is ook in .mp3 en .mp4 formaat geplaas kan word om maklik deur kerke gebruik te kan word.
2.3.1.7 Hierdie verdere toerusting vir predikante moet veral gefokus op die omkeerstrategie as vertrekpunt. Indien die predikante nie hierin leiding neem nie, sal die omkeerstrategie nie grond vat nie.
2.3.2 Finansiële implikasies vir die vestiging van ‘’n SBTB
2.3.2.1 Daar moet aan die begin fondse beskikbaar wees om die personeel (koördineerder (Direkteur) en Administratiewe assistent) se honoraria te betaal, reis- en (wanneer nodig verblyfkoste), bemarkingskoste en publikasiekoste.
2.3.2.2 Aan die begin (waarskynlik die eerste 2 tot 3 jaar) sal al die nodige fondse gewerf moet word maar algaande sal ‘n bron van inkomste gegenereer moet word deur die aanbied van toerustingsgeleenthede en materiaal wat die hele inisiatief ʼn volhoudende projek sal moet maak. Die GKSA Kuratore sal verantwoordelikheid moet aanvaar om vanuit die kerke fondse te werf, en eventueel ‘n professor te beroep of ‘n beroepe professor gedeeltelik of ten volle af te sonder om as direkteur van die projek te funksioneer. (Communitas van die NG Kerk word bv gefinansier deur kursus en publikasie inkomste maar ook deur voortdurende fondswerwing en befondsing deur Sinodes van die NG Kerk.)
2.3.2.3 In die lig van die geweldige behoefte aan bedieningstoerusting (soos blyk uit die Beskrywingspunte wat aanleiding gegee het tot hierdie Rapport) en in die lig van die noodsaak van die toerusting in die lig van die Omkeerstrategie pleit die Deputate dat daar ‘n weg gevind sal word om die SBTB te finansier. Hierdie finansiering sal dien as saadgeld wat ‘n geweldige impak kan maak op die toekoms van die GKSA.
2.3.2.4 Daarom beveel die Deputate aan dat opdrag gegee word aan te benoeme Deputate om in samewerking met die Kuratore en die Bestuur van die Administatiewe Buro ʼn aanvanklike finansieringsplan deur die kerke te ondersoek en indien moontlik reeds in werking te stel.
2.3.3 Teologiese Opleiding
Teologiese opleiding behoort ‘n belangrike deel uit te maak van ‘n omkeerstrategie. Indien leiers binne die gemeente nie toegerus en gemotiveerd is nie, is die waarskynlikheid skraal dat vernuwing sal plaasvind. Dit is daarom belangrik dat opnuut besin word oor die wyse en inhoud van teologiese opleiding en in die besonder opleiding van predikante. Die volgende is belangrike sake wat aangespreek te word:
2.3.3.1 Die inhoud van die opleiding
Die samestelling van die volle kurrikulum in sy begronding, logiese opeenvolging, aktualiteit, missionale gerigtheid en toenemende toerusting van kandidate moet herevalueer word. Voortspruitend hieruit ook die plek van alle modules wat betref die noodsaak en die inhoud daarvan, behoort deur die Senaat in samewerking met die Kuratore onderneem te word. (Die Deputate verwys in die verband na Van Wyk, G. 2014. Missio Dei as paradigma vir die verhouding tussen geloofsgemeenskappe. Bl25-27. Potchefstroom : PhD Proefskrif. 296pp.)
2.3.3.2 Die wyse van opleiding
Deeglike wetenskaplike navorsing behoort gedoen te word na die mees effektiewe wyse van opleiding van predikante. Navorsing oor die gebruik van afstandsonderrig, in-diens opleiding, leer deur ervaring, leer deur waarneming en begeleiding van mentors en die voor en nadele daarvan behoort onderneem te word. Studente behoort as toerusters van toerusters opgelei te word. Predikante behoort in staat te wees om die gemeente toe te rus vir hulle dienswerk en om toerustingsmateriaal te kan saamstel en bestaande materiaal te kan beoordeel. Hiervoor moet hulle deeglik opgelei word. As deel van die totale opleiding moet in samewerking met plaaslike gemeentes studente doelbewus begelei te word tot geloofsgroei en ‘n lewe in teenwoordigheid van die Here. In die geheel moet gepoog word om studente se karakters te ontwikkel om diensknegleiers te wees, hulle bedieningsvaardighede veel meer te ontwikkel deur in-diens opleiding en hulle intellektuele vermoëns en gawes op ʼn geïntegreerde manier te ontwikkel.
2.3.4 Aanbeveling
Dat hierdie as opdrag aan die Senaat van die TSP in samewerking met die Kuratore gegee word.
2.3.5 Opdragte aan te benoeme Deputate
Om uitvoering te gee aan 2.3.1.1 tot .2.3.2.4.

- Die Sinode spreek sy kommer uit oor die dalende tendense in getalle van die GKSA
- Ondersoek moet gedoen word na redes en oplossings.
- Statistieke van 1987–1992 toon 0,8 % groei in belydende lidmate maar toon skerp daling in dooplidmate.
- Redes vir dalende lidmatetal word aangegee as: daling in kindergetalle, tekortkominge met betrekking tot evangelisasiewerk van kerke, gebreke in bediening, toespitsing op bewaring van die kerk en onderbeklemtoning van die vermeerdering aspek.
- ‘n Baie belangrike beginsel word aangegee: God gee aan sy kerk opdrag tot opbou en uitbou. Die volgende uitspraak aangaande bogenoemde beginsels kan nie genoeg beklemtoon word nie: “‘n Kerk wie se getalle daal, moet grondig ondersoek instel oor die wyse (al dan nie) hoe aan hierdie opdrag van God gehoor gegee word.”
In die lig van hierdie beskrywingspunt neem Sinode 1994 die volgende besluit:
Benoem Deputate insake tendens van dalende lidmatetal met die volgende opdrag:
- (Om ‘n omvattende studie te maak van die huidige tendens van lidmaatgetalle in GKSA wat besig is om te daal; die moontlike oorsake daarvan en hoe die situasie op ‘n Skrifgetroue wyse aangespreek kan word.
- Om plaaslike kerke te betrek en te raadpleeg.
- Om die volgende Sinode te adviseer oor moontlike langtermyn optredes deur plaaslike kerke en kerke gesamentlik.
Sinode 1997
‘n Baie deeglike Rapport Deputate Dalende Lidmatetal dien op Sinode 1997. Die volgende inligting word deurgegee:
- Statistieke spreek hard – 3.6 gemeentes per jaar verdwyn.
- Dooplidmate: 1977–1993 toon ‘n gemiddelde daling van 1.4 % (Versnel laaste twee jaar met 2.5 % per jaar)
- Gemeenskapopsegging en vertrek sonder attestaat het skerp toegeneem.
- Feitlik geen evangelisering deur kerke vind plaas nie.
- Verhouding lidmate per predikant:
1970: 246 gemeentes (63 940) met 187 predikante: 341–1
1990: 300 gemeentes (78 946) met 286 predikante: 261–1
‘n Probleem word uitgelig: aantal lidmate per predikantsversorging is te laag. Maar ook ‘n vraag: wat is die effektiwiteit van predikantsbediening?
Die Rapport dui ‘n lys van sake aan wat dringend aandag moet kry:
- Gemeentes moet doelwitte stel wat haalbaar is en in effektiewe aktiwiteite omgeskakel word.
- Dringende beplanning rondom evangelisering wat die kerk laat groei moet gedoen word.
- Jongmense is onvergenoegd met kerk en dringende aandag moet daaraan gegee word.
- Liefde vir Gereformeerde erfenis kweek.
- Unieke Gereformeerde kerkbegrip moet gekweek word.
- Relevante katkisasie onderrig.
- Predikantskerke moet omvorm word tot gemeentes waar lidmate verantwoordelikheid neem en dien.
- Opleiding van teologiese studente moet eise van die tyd in ag neem.
- Huisbesoek se gerigtheid aangepas word (herder-kudde en liggaamsmodel).
- Rol van sang en musiek in eredienste.
- Aandag aan kinders en jeug in eredienste moet verhoog word.
- Onderlinge meelewing tussen lidmate moet verdiepte betekenis kry en bedien word.
- Groepsaktiwiteite van lidmate moet meer aandag kry.
- Die rol van vroue in alle aktiwiteite moet meer belig word.
- Die opdrag tot uitbou moet verskerp word deur die behoorlike funksionering van ampte en die amp van die gelowiges.
- Verbondskinders moet gebore word.
- Evangelisering as wesenskenmerk van die kerk en die roeping van elke gelowige moet bedien word.
Die Rapport stel dit baie skerp: “Weë moet gevind word om elke gelowige wakker te skud uit die gees van selfgenoegsaamheid”.
Die Sinode neem die volgende besluite insake bewaring van die kerk:
- Gehalte van prediking wat inhoud en aanbieding betref moet verbeter word.
- Maak erns met die vestiging van unieke Gereformeerde identiteit.
- Pastorale bediening moet opgeskerp word en huisbesoek moet effektief gebruik word.
- Die diakensamp as bediening van die liefdesgemeenskap moet tot sy reg kom – onderlinge verbondenheid moet verdiep word.
- Katkisasie onderrig moet verbeter en dooplidmate inspireer.
- Geloofsgroei moet beklemtoon en gesoek word.
- Dringende aandag aan jeugsorg en naskoolse jeug.
- Kerklike beplanning en administrasie moet effektief wees.
- Lidmate se gawes identifiseer en gebruik word.
- Kerksang moet dringend aandag kry.
- Attestate moet deeglik geadministreer word – veral “vertrek sonder attestaat”.
- Kerkorde, art 44 – Visitasie moet aangepas word in die lig van bogenoemde.
Die Sinode besluit die volgende met betrekking tot groei (uitbreiding)
- Geboorte-aanwas moet bevorder word – leiding aan ouers moet gegee word.
- Evangelisering – lidmate moet op alle moontlike wyses opgewek word tot bewoënheid oor afgedwaaldes en ongelowiges en hulle moet opgeroep en toegerus word tot daadwerklike optrede.
Die Sinode besluit die volgende met betrekking tot toerusting
- Die TSP moet in voortgesette opleiding aandag gee aan evangelisering.
- Kuratore van TSP behoort praktiese onderrig van studente uit te brei. Praktiese jaar moet oorweeg word.
- Deputate vir Evangeliseringsmedia moet voortgaan met toerustingsmateriaal.
- Kerke moet gereelde toerusting oor evangelisering aanbied.
- Die Sinode behoort Deputate vir Kerkgroei te benoem om te monitor en advies te gee.
Die Sinode neem ook hierdie belangrike besluit oor voorbidding
- Kerke behoort voortdurend voorbidding te doen vir die bewaring en vermeerdering van die kerk
Verdere besluite van 1997
- Deputate insake Bewaring en Vermeerdering word aangewys om inligtingstuk aangaande 1997 se besluit te verwerk en aan kerke deur te gee.
- Om die volgende Sinode te adviseer oor strategieë om praktiese uitvoering te gee aan bevindinge van Rapport oor die taak van die kerke in verband met die tendens oor dalende lidmatetal.
Sinode 2000
Die Deputate rapporteer en poog om dieper as die oppervlak te kyk na die hele saak van die opbou en uitbou van die kerk. ‘n Baie goeie Rapport Bewaring en Vermeerdering van die kerk dien en fokus op die volgende sake:
Algemene vertrekpunte
- Die motivering vir bewaring en vermeerdering moet reggestel word: daar moenie ‘n vrees vir vermindering van die kerk wees nie, maar gehoorsaamheid aan God en sy Woord moet ons motiveer.
- Alle strategieë moet gefundeer wees in die regte Bybelse kerkbegrip en daarom bied die Deputate eerder Bybelse perspektiewe as strategieë aan.
- Elke plaaslike kerk moet in die lig van die Bybelse perspektiewe selfstandig in die lig van eie situasie strategieë uitwerk.
Bybelse perspektiewe vir ‘n Gereformeerde kerklike praktyk
- God Drie-enig bring die kerk tot stand en bepaal die kerk se wese en doel tot sy eer.
- God Drie-enig sorg vir die welwese, voortbestaan en voleinding van sy kerk.
- Die kerk is God se sending in die wêreld.
- God gebruik sy kinders as medewerkers vir die welwese, die voortbestaan en die opbou van sy kerk.
- Die kerk is op die koninkryk gerig.
Die Deputate wys op die volgende beskouings wat afwyk van ‘n Bybelse en Gereformeerde kerklike praktyk:
- Die kerk as alleen-sosiologiese verskynsel
- Verbondsoutomatisme
- Institusionalisme
- Behoudsug
- Neo-Fariseïsme
- Tradisionalisme
- Verwaarlosing van die verbond
- Verwaarlosing van die begeleiding van verbondsjeug
- Atomisme
- Individualisme
- Metodisme
- Biddeloosheid
- Duplisering
- Planloosheid
- Veranderingsdrif
- Kerkisme
- Missionêre roepingsversaking
- Ampsoorheersing
- Gewetensbinding
- Sinodekrasie
- Herderloosheid
- Verwêreldliking
- Rassisme
- Bibliolatrie
Belangrike en leidinggewende besluit van die Sinode
- Verootmoediging: alle Gereformeerde kerke verootmoedig hulle voor die Here.
- Selfondersoek: alle lidmate doen selfondersoek aan die hand van die bevindinge en besluite van die Sinode.
- Bekering en reformasie: lidmate voer getrou hulle roeping as sendende kerk uit.
- Voorbidding: volhardende voorbidding in kerke.
- Toerusting: TSP moet aandag gee aan metodes om kerke toe te rus oor opbou en uitbou.
- Inskakeling van nuwe bekeerlinge: gee goeie aandag.
- Toegewyde, effektiewe administrasie.